Nuus 14:00
BULLETIN 17 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party verwelkom die ooreenkoms in Bogotá as ‘n keerpunt vir internasionale geregtigheid in Gaza
# Rugby: Twee-en-dertig spelers word in die Springbok-vrouegroep ingesluit vir kragmeting met die Kiwi’s
# En die Thaise polisie keer ‘n vrou aan wat na bewering Boeddhistiese monnike verlei en afpers
# Die GOOD-party verwelkom die mylpaalbeslissing van die ministeriële noodkonferensie van die Den Haagse Groep, wat gesamentlik deur Suid-Afrika en Colombia in Bogotá belê is. Die party sê hierdie gekoördineerde multilaterale optrede is die mees betekenisvolle en beginselvaste standpunt tot dusver om die volksmoord in Gaza te stop en die geloofwaardigheid van die internasionale reg te herstel. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die maatreëls waarop ooreengestem is, sluit in wapenembargo’s, verantwoordingsmeganismes en die ekonomiese ontkoppeling van Israel se onwettige besetting:
# Build One South Africa het president Cyril Ramaphosa geprys vir sy leierskap in die internasionale arena, veral binne die G20. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, sê egter die sukses van die beraad moet aan verhoogde belegging gemeet word en nie aan vergaderings nie. Maimane vra ook sterker plaaslike regering en ‘n duidelike plan vir die regering van nasionale eenheid. Hy beklemtoon die behoefte vir minder voorkeurgebiede en meer beslissende optrede om Suid-Afrika se ekonomie en jeuggeleenthede aan te vuur:
# BankservAfrica se Ekonomiese Transaksie-aanwyser het in Junie die tweede agtereenvolgende maand ‘n verhoging aangeteken, wat ‘n verbeterde ekonomiese momentum aandui. Die aanwyser, wat alle elektroniese transaksies volg en seisoenaal aangepas word vir werklike pryse, het met 0,4-persent gestyg tot 139,1. Dit dui sterker groei in die tweede kwartaal aan, met mynwese en die vervaardigingsektor wat waarskynlik positief sal bydra. Die verbeterde sakevertroue en strukturele krag in die ekonomie kan groei in die bruto binnelandse produk ondersteun wanneer die syfers vroeg in September vrygestel word.
# Rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, het 32 spelers aangewys vir die wedstryde teen Nieu-Seeland op die 26ste van hierdie maand en die tweede van volgende maand. Ses spelers het aangesluit by die span wat in die reeks van twee toetse teen Kanada gespeel het. Vier spelers wat deel was van die suksesvolle Afrikabekertoernooi vir vroue is ook weer opgeroep. De Bruin sê die wedstryde teen Nieu-Seeland is die laaste voorbereiding vir volgende maand se Wêreldbekertoernooi in Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-622-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-99-sent per vat.
# En laastens: Die polisie in Thailand het ‘n vrou in hegtenis geneem wat na bewering Boeddhistiese monnike verlei het voor sy hulle afgepers het vir groot bedrae geld. Die saak het Boeddhistiese instellings die afgelope weke geskok en die publiek vasgenael gehou. Minstens nege kloosterhoofde en senior monnike wat by die skandaal betrokke was, is uit die monnikskap verdryf. Skandale waarby monnike betrokke is, kom ‘n paar keer per jaar voor, maar betrek selde senior geestelike leiers. Thaise monnike moet selibaat wees en mag nie eens aan ‘n vrou raak nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….