Nuus 13:00
BULLETIN 17 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Maimane vra Ramaphosa om minister van Polisie vanuit eie geledere aan te stel
# Minstens 180 mense sterf in moesonreën in Pakistan
# En rugby: Curry en Tuipulotu is in Leeus se span vir die eerste toets teen die Wallabies
# Die leier van Build One Suid-Afrika, Mmusi Maimane, vra president Cyril Ramaphosa om beslissende stappe te doen en ‘n etiese minister van Polisie vanuit eie geledere aan te stel. Maimane het tydens die debat oor die Presidensie se begroting die etiek van die huidige minister, Senzo Mchunu, se gedrag bevraagteken en waarsku daarteen om hom as ‘n spookwerker te plaas. Hy versoek Ramaphosa om grondwetlike bepalings te volg en ‘n leier te kies wat polisielede kan vertrou:
RISE Mzansi sê intussen Suid-Afrikaners wil ‘n sin vir dringendheid aan die kant van die uitvoerende gesag sien in die hantering van korrupsie en wetteloosheid. Mchunu is die jongste regeringsamptenaar wat van korrupsie beskuldig word. Die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, het aan die Parlement gesê al meer mense praat van hul voorkeur vir ‘n militêre diktatorskap, omdat hulle glo dit sal nie deur formele prosesse beperk word nie en sal die dringendheid lewer waarna burgers nou so smag:
# Die Stadsraad van Tshwane het die wysiging van ‘n munisipale verordening goedgekeur wat die aanhou van bye in stedelike gebiede reguleer. Bye is belangrik vir voedselsekerheid want hulle bestuif die meeste eetbare plante, vrugte en groente in tuine, en ook plante wat die omgewing versier. Die burgemeesterskomiteelid vir Omgewings- en Landboubestuur, Obakeng Ramabodu, sê die verordening is nodig om ‘n balans te tref tussen die aanhou van bye in stedelike gebiede en die gesondheid en veiligheid van inwoners.
Nuus uit die buiteland:
# Vier-en-vyftig sterftes binne die afgelope 24-uur word gekoppel aan die swaar reën in Pakistan, wat die dodetal op ongeveer 180 te staan bring sedert die moeson-seisoen die land aan die einde van Junie getref het. Daar was sedert gisteroggend aanhoudende stortreën in dele van die Punjab-provinsie, wat gelei het tot stedelike oorstromings. Inwoners wat naby ‘n rivier in die stad Rawalpindi naby die hoofstad Islamabad, woon, is aangesê om te ontruim omdat die watervlak skerp gestyg het.
# Rugby: Die Engelse flank, Tom Curry, en die Skotse senter Sione Tuipulotu is ingesluit in die Britse en Ierse Leeus se span vir Saterdag se eerste toets teen Australië in Brisbane. Tuipulotu is verkies bo Bundee Aki, terwyl Curry spelers soos Jac Morgan, Josh van der Flier en Henry Pollock laat terugstaan het. Marcus Smith is op die bank gekies voor Fin Smith en Owen Farrell. Afrigter Andy Farrell sê hulle het die regte balans vir die wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-993-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….