Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het sy span se buitengewone taktiek verdedig tydens verlede naweek se toets teen Italië in Gqeberha. Hy wil weet wie besluit wat in die gees van die spel is of nie. Dit volg na ongelukkigheid omdat die senter André Esterhuizen doelbewus beweeg het voor Manie Libbok se afskop, wat tot ‘n skrum op die middelkolletjie gelei het, en later ‘n ongewone beweging om ‘n lynstaan af te dwing wat op ‘n drie uitgeloop het. Erasmus sê vernuwing moet geprys word en nie afgeskiet word nie.
Die Engelse flank, Tom Curry, en die Skotse senter Sione Tuipulotu is intussen ingesluit in die Britse en Ierse Leeus se span vir Saterdag se eerste toets teen Australië in Brisbane. Tuipulotu is verkies bo Bundee Aki, terwyl Curry spelers soos Jac Morgan, Josh van der Flier en Henry Pollock laat terugstaan het. Marcus Smith is op die bank gekies voor Fin Smith en Owen Farrell. Afrigter Andy Farrell sê hulle het die regte balans vir die wedstryd:
# Sokker: Crystal Palace se voorsitter, Steve Parish, het bevestig hulle gaan appèl aanteken by die Hof vir Arbitrasie in Sport nadat hy afgegradeer is uit die Europaliga. Palace het vir die kompetisie gekwalifiseer met ‘n oorwinning oor Manchester City in die FA Beker in Mei. Die Europese beheerliggaam, UEFA, het egter beslis dat Palace gerelegeer moet word na die Konferensieliga weens ‘n belangebotsing omdat die klub se voormalige direkteur, John Textor, ook mede-eienaar van die Franse klub Lyon is. Textor is aan die begin van Julie weg by Palace.
# Krieket: Die veelsydige Wes-Indiese speler, Andre Russell, gaan uit internasionale krieket tree na die tweede T20-wedstryd teen Australië wat Dinsdag in sy tuisstad, Kingston in Jamaika, plaasvind. Die 37-jarige Russel, ‘n tweemalige T20-Wêreldbekerwenner, het 84 internasionale wedstryde in die formaat gespeel en 70 paaltjies platgetrek. Russell sê hy wil sy internasionale loopbaan op ʼn hoogtepunt afsluit en ʼn rolmodel wees vir die volgende geslag krieketspelers uit die Karibiese Eilande.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het weens uitputting onttrek aan die Kanadese Ope in Montreal. Die 27-jarige heersende Amerikaanse Ope-kampioen sê sy sien daarna uit om met die Noord-Amerikaanse toernooie te begin, maar om sukses te behaal is dit in haar beste belang om Montreal oor te slaan. Paula Badosa van Spanje het weens ʼn besering ook onttrek. Die Amerikaner Caty McNally en Moyuka Uchijima van Japan vervang Sabalenka en Badosa in die hooftrekking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….