Nuus 11:00
BULLETIN 17 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê die Amerikaanse tariewe sal ’n uitwerking hê op Suid-Afrika se motor- en landbousektor
# Die EFF behou Julius Malema se tuiswyk in Polokwane
# En rugby: Die All Blacks se afrigter bring 10 veranderings aan vir die laaste toets teen Frankryk
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku dat Amerikaanse tariewe die voertuigvervaardigings- en die landbousektor in Suid-Afrika die ergste sal raak. Amerika gaan vanaf begin volgende maand ‘n tarief van 30 persent op uitvoere uit Suid-Afrika instel. Ongeveer 100-duisend werksgeleenthede in die motor- en die landbousektor is in gevaar, insluitend 35-duisend net in die sitrus-sektor. Kganyago het aan Reuters gesê dit is belangrik vir individuele lande om hulle reaksie op die tariewe by hul ekonomieë aan te pas:
# AZAPO sê die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, se aanstelling as waarnemende minister van Polisie is ‘n teken van swak leierskap. Die organisasie het verwys na Mantashe se betrokkenheid by beweerde korrupsie en as ‘n persoon van belang in die Zondo-kommissie. Azapo waarsku alhoewel hy nie aangekla is soos die afgetrede hoofregter Raymond Zondo gevra het nie, wek die stap kommer oor botsende belange. AZAPO beklemtoon dis ‘n teken van president Cyril Ramaphosa se minagting oor die herstel van integriteit en die bekamping van misdaad in Suid-Afrika.
# Die EFF het Wyk 13 in Seshego, Polokwane, in ‘n tussenverkiesing behou met 57,34-persent van die stemme. Dit is party-leier Julius Malema se wyk. Die ANC was tweede met 40,91-persent, en die SAKP derde met 1,19-persent. Die tussenverkiesing het gevolg ná die skorsing van die EFF-raadslid, Mafiwa Leballo. Die party se nuwe wyksraadslid, Mongatane Ramaphoko, sê die oorwinning getuig van die gemeenskap se vertroue in die party wat vir hulle veg en ware verandering bring.
Nou nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het die ervare federale aanklaer, Maurene Comey, afgedank. Sy was betrokke by die saak teen die veroordeelde pedofiel, Jeffrey Epstein, wat in 2019 in die tronk selfdood gepleeg het, en sy medepligtige, Ghislaine Maxwell. Comey was ook deel van die hip-hop-magnaat, Sean ‘Diddy’ Combs’, se saak. Haar afdanking volg te midde van kritiek op die Trump-administrasie se hantering van die Epstein-lêers. Trump beskryf die Epstein-omstredenheid as ʼn kullery:
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het tien veranderings aan sy span aangebring vir Saterdag se derde en laaste toets teen Frankryk in Hamilton. Sewe spelers is die eerste keer hierdie seisoen opgeroep. Die haker Brodie McAlister kan sy toetsbuiging van die bank maak. Die stut Tyrel Lomax, die losvoorspeler Luke Jacobson en die agterspelers Anton Lienert-Brown en Sevu Reece het almal van beserings herstel en is in die opdrafspan ingesluit. Robertson sê hulle is voorbereid om ‘n vasberade en begeesterde Franse span te takel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-179-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-334-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….