Nuus 09:00
BULLETIN 17 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Suid-Afrika het misluk onder ANC-bewind
# Die Departement van Gesondheid is besig met ‘n M-pokke-inentingsveldtog
# En die Internasionale Strafhof verwerp Israel se versoek om lasbriewe terug te trek
# Die Vryheidsfront Plus glo die oplossings vir Suid-Afrika se uitdagings kan gevind word in die skepping van ‘n blink toekoms vir almal, insluitend die Afrikaner en alle ander minderheidsgroepe. Die VF Plus leier, Corné Mulder, het gister tydens die debat oor die Presidensie se Begrotingspos aangevoer die land het onder die ANC-regering misluk. Hy sê die kern van die land se krisis is die obsessie met die gelykheid van uitkomste en nie geleenthede nie:
# Die Departement van Gesondheid sê hy is besig met ‘n inentingsveldtog teen m-pokke, aangesien die aantal laboratoriumbevestigde gevalle in die land geleidelik aan die toeneem is. Twee laboratoriumbevestigde gevalle is onlangs in Gauteng en die Wes-Kaap aangeteken, wat die totale aantal bevestigde gevalle tot tien verhoog. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê hulle het ongeveer tienduisend-500 dosisse van die m-pokke-entstof, Imvanex, ‘n skenking van die Afrika-sentrum vir Siektebeheer ontvang:
# Die Wes-Kaapse regering het die belangrikheid van die versterking van handels- en beleggingsbetrekkinge met Kanada herbevestig. Suid-Afrika se uitvoere na Kanada was in 2023 op 8,28-miljard-rand, met die provinsie wat ‘n beduidende bydrae lewer van altesaam 3,4-miljard-rand. Die LUR van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, het onlangs met Kanada se minister van Finansies, François-Philippe Champagne, vergader. Meyer sê Kanada het tussen Januarie 2014 en Mei 2024 in 26 projekte in Suid-Afrika belê, wat altesaam 15,57-miljard-rand in kapitaaluitgawes beloop het:
# Die Internasionale Strafhof het Israel se versoek verwerp dat lasbriewe teen eerste minister, Benjamin Netanyahu en voormalige minister van Verdediging, Yoav Gallant, teruggetrek word. Die hof het in November verlede jaar lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik vir Netanyahu, Gallant en ‘n Hamas-leier, Ibrahim al-Masri, vir vermeende oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Gaza. Die lasbrief teen Al-Masri is in Februarie teruggetrek na geloofwaardige berigte van sy dood. Die hof verwerp ook Israel se versoek om sy groter ondersoek na vermeende misdade in die Palestynse gebiede op te skort.
# Krieket: Die veelsydige Wes-Indiese speler, Andre Russell, gaan uit internasionale krieket tree na die tweede T20-wedstryd teen Australië wat op 22 Julie in sy tuisstad, Kingston in Jamaika, plaasvind. Die 37-jarige Russel, ʼn tweemalige T20-wêreldbekerwenner, het 84 internasionale wedstryde in die formaat gespeel en 70 paaltjies platgetrek. Russell sê hy wil sy internasionale loopbaan op ʼn hoogtepunt afsluit en ʼn rolmodel wees vir die volgende geslag krieketspelers uit die Karibiese Eilande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-251-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….