Nuus 08:00
BULLETIN 17 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Twaalf lande stem saam oor maatreëls om die volksmoord in Gaza te stop
# Die DA sê die ad hoc-komitee oor die Mkhwanazi-bewerings is ‘n noodsaaklike eerste stap
# En tennis: Aryna Sabalenka onttrek uit Montreal om te rus
# ‘n Koalisie van 12 lande het saamgestem oor ses gekoördineerde diplomatieke, regs- en ekonomiese maatreëls om Israel se aanval op die Palestyne te beperk en internasionale reg te verdedig. Die lande sluit Suid-Afrika, Colombië, Indonesië, Irak, Maleisië en Libië in. Die maatreëls sluit in dat wapens nie voorsien word nie en ʼn hersiening om te keer dat staatsinstellings en -fondse Israel se sogenaamde onwettige besetting ondersteun. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê dit bevestig dat geen staat bo die wet verhewe is nie.
# Die DA verwelkom die parlementêre portefeuljekomitees vir Polisie en Justisie se aanbeveling dat ʼn ad hoc-komitee aangestel word om die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings te ondersoek. Die ad hoc-komitee sal ook spesifieke kwessies ondersoek soos die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat na bewering 121 dossiere verwyder het. Lisa Schickerling van die DA sê dis ʼn belangrike stap om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker:
Makashule Gana van RISE Mzansi sê intussen egter die ad hoc komitee is nog nie gefinaliseer nie, en die Nasionale Vergadering gaan die voorstel eers volgende week bespreek. Hy het lede aangemoedig om nie vooraf oordeel uit te spreek nie en het die noodsaaklikheid beklemtoon van ’n billike proses met ’n duidelike tydraamwerk om openbare vertroue te handhaaf:
# ActionSA in Gauteng sê die provinsiale wetgewer moet ʼn openbare verhoor belê om die ekonomiese uitwerking en regverdigheid van vaste elektrisiteitsbybetalings te bepaal. Dit volg nadat die Stad Johannesburg ʼn nuwe vaste elektrisiteitsbybetaling van 230-rand ingestel het vir klante wat vooraf krag koop. ActionSA se woordvoerder, Zwelithini Mtshali, sê as die ANC en EFF glo elektrisiteit is ʼn luukse, regeer hulle net namens ʼn paar. Hy sê hulle sal veg vir geregtigheid wat elektrisiteitstariewe betref:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka van Belarus het weens uitputting aan die Kanadese Ope in Montreal onttrek. Die 27-jarige speler en heersende Amerikaanse Ope-kampioen sê sy sien daarna uit om met die Noord-Amerikaanse toernooie te begin, maar om sukses te behaal is dit in haar beste belang om Montreal oor te slaan. Paula Badosa van Spanje het weens ʼn besering ook onttrek. Die Amerikaner Caty McNally en Moyuka Uchijima van Japan vervang Sabalenka en Badosa in die hooftrekking.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-928-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….