Nuus 11:00
BULLETIN 16 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA bevraagteken die rol van adjunkministers ná minister Mantashe se aanstelling as waarnemende minister van Polisie
# Die Activists and Citizens Forum kritiseer Mantashe se aanstelling
# En ‘n vragmotor met gassilinders stort in Magoebaskloof, Limpopo, af en ontplof
# ActionSA kritiseer president Cyril Ramaphosa vir die aanstelling van ‘n waarnemende minister van Polisie en bevraagteken die rol van adjunkministers. Die president het die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, as waarnemende minister aangestel totdat professor Firoz Cachalia die posisie begin volgende maand aanvaar. Dereleen James van ActionSA sê die leierskapskrisis binne die Polisiediens is steeds onbestendig en ‘n werklike bedreiging vir nasionale veiligheid:
Activists and Citizens Forum sê intussen Mantashe se aanstelling versterk hulle oproep dat Ramaphosa moet bedank. Dennis Bloem van die forum beskryf Mantashe se aanstelling as ‘n belediging, en sê die land het ʼn president nodig wat die land en sy burgers voor die party se politieke belange stel:
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid waarsku motoriste om ander roetes te gebruik ná ʼn ernstige voorval vanoggend op die R71 naby Magoebaskloof, bo Ruskamp. ʼn Vragmotor vol gassilinders het gebots en aan die brand geslaan. Dit het tot talle ontploffings gelei wat die nabygeleë plantasie aan die brand gesteek het. Die departement se woordvoerder, Matome Taueatsoala, sê die R71 is tot verdere kennisgewing vir alle verkeer gesluit:
Nou nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, het ‘n ondersoek van stapel gestuur na wat hy beskryf as Brasilië se onbillike handelspraktyke. Dit volg ‘n week na president Donald Trump gedreig het met ‘n tarief van 50-persent op invoere van Latyns-Amerika se grootste ekonomie. Die ondersoek sal fokus op digitale handel en elektroniese betalingsdienste, voorkeurtariewe en teen-korrupsie-inmenging, sowel as die beskerming van intellektuele eiendom. Greer beskuldig Brasilië dat hy Amerikaanse uitvoere benadeel deur laer tariewe aan ander handelsvennote te bied.
# Rugby: Die Franse kaptein, Antoine Dupont, sê hy sal ná sy land se toetse in November weer in aksie wees. Die 28-jarige skrumskakel het ‘n ernstige knie-besering opgedoen in die Sesnasies-toets teen Ierland op 8 Maart. Dit beteken hy sal die toetse teen Suid-Afrika, Fidji en Australië misloop. Dupont sê hy wil nie oorhaastig terugkeer nie, al is dit vir hom sleg om internasionale wedstryde mis te loop. Frankryk maak gereed om Nieu-Seeland Saterdag in Hamilton te pak in die derde toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-69-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….