Nuus 17:00
BULLETIN 15 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoof van Misdaadopsporing Sibiya op verpligte verlof geplaas te midde van Mkhwanazi se bewerings
# MK eis dat die minister van Polisie afgedank word
# En rugby: Kolisi keer terug vir die Bokke teen Georgië
# Die polisie se adjunk-nasionale kommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, is gevra om verlof te neem. Dit volg op plofbare bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, dat Sibiya met die inligtingsmous Brown Mogotsi en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, saamgespan het om die taakspan vir politieke moorde in die provinsie te ontbind. Nasionale kommissaris Fannie Masemola het bevestig dat Sibiya met die nodige dokumente bedien is. Sibiya het die bewerings as ongegrond ontken en sy plaasvervanger moet nog aangekondig word. Mchunu is vroeër op spesiale verlof geplaas.
Die MK-party eis intussen Mchunu se onmiddellike afdanking en beskuldig hom van die misleiding van die Parlement en die skending van die Grondwet. Die party sê Mchunu se voortgesette teenwoordigheid in die kabinet terwyl hy op spesiale verlof is, skep ‘n ongrondwetlike situasie met twee individue aan die stuur van die ministerie. Colleen Makhubele van MK sê die aanstelling van waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga om die ondersoek na beweerde polisie-inmenging te lei, is onregmatig:
# Mpumalanga se premier, Mandla Ndlovu, het ‘n groot kabinetskommeling aangekondig. Jester Sidell is nou LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, en vervang Makhosazane Masilela, wat speaker word. Brenda Moeketsi neem die Landbou-leisels oor, met Nompumelelo Hlophe wat na Maatskaplike Ontwikkeling skuif. Lindi Masina vervang Cathy Dlamini as LUR vir Onderwys en die hoof van Kultuur, Sport en Ontspanning, Godfrey Ntombela, is afgedank. Adjunk-regterpresident Takalani Ratshibvumo het LUR’e versoek om hul eed na te kom dat hulle inwoners sal dien:
# Rugby: ‘n Voorry met drie nuwe Springbokke sal die skrum anker in Saterdag se eenmalige toets teen Georgië in Mbombela, met Boan Venter, Marnus van der Merwe en Neethling Fouché wat al drie hulle toets-buiging maak. Fouché en Van der Merwe het wel vir Suid-Afrika gespeel in die onlangse wedstryd teen die Barbarians in Kaapstad. Kaptein Siya Kolisi is terug na ’n besering en sal saam met Pieter-Steph du Toit en Cobus Wiese die lostrio vorm. Sacha Feinberg-Mngomezulu en Grant Williams is die skakelpaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-682-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-41-sent per vat.
# En laastens, die wêreld se oudste marathonatleet, die 114-jarige Fauja Singh van Indië, is in ‘n tref-en-trap-ongeluk dood. Hy het ‘n dekade gelede na sy 100ste verjaardag steeds deelgeneem. Singh is in 1911 op die Indiese platteland gebore en het later na Londen verhuis, waar hy bekendheid verwerf het as Die Tulband-tornado. Hy het eers in sy laat 80s begin hardloop en nege marathons voltooi. Singh word as die oudste marathonatleet beskou maar dit is nooit as ‘n Guinness-wêreldrekord erken nie omdat hy nie ‘n geboortesertifikaat gehad het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….