Nuus 14:00
BULLETIN 15 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê Ramaphosa se kommissie is vertragingstaktiek terwyl Suid-Afrikaners steeds ly
# Die G20-klimaatswerkgroep bespreek belangrike sake om die omgewingskrisis aan te pak
# En krieket: Lance Klusener bly aan as hoofafrigter van Durban’s Super Giants in die SA20
# Action Society sê president Cyril Ramaphosa se aankondiging oor ‘n regterlike kommissie van ondersoek na bewerings van diepgewortelde misdadige sameswering in die polisie is nie ‘n bepalende ingryping nie. Dit volg op die provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, se plofbare uitlatings oor korrupsie en misdadige bedrywighede. Kaylynn Palm van ActionSA sê hulle is diep bekommerd dat die stigting van nog ‘n kommissie bloot tyd sal koop vir die politieke elite terwyl die regstelsel aanhoudend om gewone burgers ineenstort:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê die G20-Omgewings- en Klimaatvolhoubaarheidswerkgroep se vergadering in die Krugerwildtuin het belangrike punte geïdentifiseer om omgewingsuitdagings aan te pak. Dit sluit in die hersiening van tegniese dokumente oor bioverskeidenheid, droogte, die agteruitgang van grond, chemikalieë, klimaatsverandering, luggehalte en oseane. George sê dit stem ooreen met die Afrika Agenda 2063. Hy waarsku armoede en besoedeling kan vererger en eis dringende hervormings:
# ‘n Veteraan-arbeidsadvokaat, Michael Bagraim, vra werkers om nie hul aftreegeld te gebruik voor hul aftree nie. Hy sê sedert die Parlement in September verlede jaar die tweepot-aftreestelsel bekragtig het, is 57-miljard-rand aan meer as 3,5-miljoen werkers uitbetaal. Bargraim sê die tweepot-stelsel beteken mense het toegang tot ‘n sekere bedrag geld uit hul pensioen- of voorsorgfondse sonder om te bedank:
# Krieket: Durban’s Super Giants het aangekondig dat Lance Klusener terugkeer as afrigter vir die volgende seisoen van die SA20. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat hy die franchise sal lei. Klusener is ‘n gerespekteerde figuur in wêreldkrieket en een van Suid-Afrika se mees gevierde veelsydige spelers. Die span het in seisoen twee die eindstryd gehaal. Seisoen drie was ‘n uitdagende veldtog, maar die franchise bly gebonde aan sy langtermyn-plan om ‘n span te bou wat titels inpalm. Die spelerveiling vir seisoen vier vind op 9 September plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-850-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-39-sent per vat.
# En laastens, die Universiteit van Pretoria sê met die herdenking van Mandela-maand is dit ‘n gepaste tyd om opnuut aandag te gee aan die stille krisis van voedselonsekerheid by Suid-Afrikaanse universiteite. Die vlakke van voedselonsekerheid by universiteite regoor die land wissel van elf- tot 38- persent. UP se direkteur van Studentesake, Kgadi Mathabathe, sê diegene wat ‘n mate van voedselonsekerheid en ‘n gebrek aan voldoende voeding ondervind, verdiep die siklus van ongelykheid, veral onder Afrika- en eerstegeslag-studente. Sy voeg by voedselonsekerheid raak geestesgesondheid, konsentrasie en bywoning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….