Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Junior Springbokke is deur na die eindstryd van Wêreldrugby se Onder-20-kampioenskap met hulle oorwinning van 48-24 oor Argentinië in Viadana, Italië. Suid-Afrika het ses drieë gedruk, twee deur Albie Bester, teenoor Argentinië se drie. Die Junior Bokke kom Saterdag in die eindstryd teen Nieu-Seeland te staan nadat die sesmalige kampioen Frankryk 34-26 verslaan het. Hierdie eindstryd is ‘n herhaling van die een in 2012, toe Suid-Afrika op ʼn uitverkoopte Nuweland gewen het.
Die Springbok-losvoorspeler Jasper Wiese verskyn intussen vandag voor ‘n tugkomitee van Wêreldrugby na sy rooikaart tydens Saterdag se tweede toets teen Italië in Gqeberha. Die Ierse skeidsregter, Andrew Brace, het hom afgestuur vir ‘n kopstamp tydens ‘n onderonsie in die eerste helfte. Die Bokke het nogtans 45-0 gewen. Wiese kan waarskynlik ‘n swaar straf verwag omdat sy dissiplinêre rekord nie te goed lyk nie. Die uitwysingskomitee het die saak reguit na ‘n volle verhoor verwys, wat dui op die erns van die aanklag.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Banyana Banyana, het Mali met 4-0 verslaan om eerste te eindig in Groep C van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Lebohang Ramalepe het die eerste doel in die vierde minuut aangeteken en kaptein Refiloe Jane het die voorsprong in die eerste helfte verdubbel. Hildah Magaia het die derde doel in die 60ste minuut bygedra en die plaasvervanger Ronnel Donnelly het die telling afgerond met haar eerste senior doel vir Suid-Afrika. Afrigter Desiree Ellis se span kom Saterdag in die kwarteindronde teen Senegal te staan.
# Krieket: Suid-Afrika het met vyf paaltjies oor Zimbabwe geseëvier in hul openingswedstryd van die driehoekige T20-reeks in Harare. George Linde het drie paaltjies laat val terwyl die gashere beperk is tot 141 vir ses in hul 20 boulbeurte, met kaptein Sikandar Raza wat ‘n onoorwonne 54 aangeteken het. Die nuweling Rubin Hermann en Dewald Brevis het daarna die kolf laat swaai en onderskeidelik 45 en 41 aangeteken, terwyl die Proteas die teiken bereik het met 25 balle oor. Suid-Afrika kom môre teen Nieu-Seeland te staan.
En nog krieketnuus: Australië het 3-0 skoonskip gemaak in die toetsreeks teen die Windies toe hulle die gashere in die laaste wedstryd in Kingston, Jamaika, vir slegs 27 uitgeboul het. Dit is slegs een lopie meer as Nieu-Seeland se rekord in 1955. Mitchell Starc het die meeste verwoesting aangerig en ‘n wêreldrekord opgestel vir die vinnigste vyf paaltjies nadat hy net 15 aflewerings nodig gehad het om dit reg te kry. Sy finale syfers was ses paaltjies vir nege lopies, met Australië wat met 176 lopies gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….