Nuus 12:00
BULLETIN 15 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkeer van Koeberg se Eenheid 1 word vertraag maar verhoog nie die moontlikheid van beurtkrag nie
# Rugby: Die Springbok Jasper Wiese verskyn vandag voor ‘n tugkomitee na sy rooikaart teen Italië
# En die blomme begin pronk in Namakwaland
# Eskom sê Eenheid 1 van die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad sal nou teen die einde van Augustus weer aanlyn wees. Daar is aanvanklik verwag dat die eenheid dié maand weer in diens sou wees. Die eenheid van 930-megawatt is tans afgeskakel vir die tweede fase van ‘n langtermyn-bedryfsverlenging. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die hersiene tydlyn is te wyte aan foute wat tydens inspeksies en onderhoud gevind is. Sy voeg by die vertraging sal nie die risiko van beurtkrag verhoog nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die voorlopige skorsing van die Padverkeerbestuurskorporasie se uitvoerende hoof, Makhosini Msibi. Dit volg na bewerings van finansiële wanbestuur, onregmatige besteding en bestuursmislukkings in die staatsinstelling. ‘n Forensiese ondersoek is ingestel. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê Msibi se voorlopige skorsing is ʼn noodsaaklike stap om seker te maak die ondersoek vind onbelemmerd plaas:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat nog ʼn kouefront die Wes-Kaap en ander dele van die land later die week sal tref. Die provinsie verwag van Donderdag af reën en donderstorms. Teen Vrydag word reën ook in die oostelike dele van die land, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng verwag. Senior voorspeller, Tokelo Chiloane, sê die enigste plekke wat dié week warmer weer kan verwag, is plekke soos Musina en Upington in die noorde.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Jasper Wiese verskyn vandag voor ‘n tugkomitee van Wêreldrugby na sy rooikaart tydens Saterdag se tweede toets teen Italië in Gqeberha. Die Ierse skeidsregter, Andrew Brace, het hom afgestuur vir ‘n kopstamp tydens ‘n onderonsie in die eerste helfte. Die Bokke het nogtans 45-0 gewen. Wiese kan waarskynlik ‘n swaar straf verwag omdat sy dissiplinêre rekord nie te goed lyk nie. Die uitwysingskomitee het die saak reguit na ‘n volle verhoor verwys, wat dui op die erns van die aanklag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-789-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-360-dollar-103-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, dit het sedert Maart goed gereën in die Namakwa Nasionale Park in die Noord-Kaap en lae temperature is onderbreek deur tye van sonskyn. Dit het dit moontlik gemaak vir die vroeë ontkieming van blomme, veral die gousblom-spesies. SANParke sê blomme het reeds in die Skilpad-gebied begin blom, terwyl gedeeltes van die viertrek-ekoroete, insluitend Wildeperdehoek en Kookfontein, reeds in volle en veelkleurige blom staan. Hy voeg by dat toestande gunstig is vir die blomtydperk tot diep in Augustus en selfs tot in September vanjaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….