Nuus 08:00
BULLETIN 15 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal binnekort ‘n besluit oor minister Nkabane neem
# Die liggaam van ‘n vermeende stroper is in die Krugerwildtuin gevind
# En die VSA verkoop wapens aan NAVO om Oekraïne te help
# Die Presidensie sê die saak van die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, bly ‘n topprioriteit op president Cyril Ramaphosa se aksielys. Die minister word van korrupsie en wangedrag beskuldig en die misleiding van die Parlement oor die aanstellings van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede se raad. Dit het openbare verontwaardiging ontketen en gelei tot ‘n regs- en parlementêre ondersoek. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het ‘n verslag oor die saak ontvang, en die kwessie behoort binnekort afgesluit te word.
# Die DA het kwartaallikse verslae van die Nasionale Tesourie en die Departement van Staatsdiens en Administrasie aangevra. Dit moet duidelike vordering toon om spookwerkers te identifiseer en uitvoerende hoofde by staatsinstellings se buitensporige salarisse te sny. Vals werknemers kos belastingbetalers jaarliks miljoene rand. Leah Potgieter van die DA sê spookwerkers is nie net ‘n vermorsing nie, maar word dikwels ook verbind met groter korrupsie waar amptenare ook ander staatsafdelings plunder:
# Die liggaam van ʼn vermeende renosterstroper is die naweek in die Krugerwildtuin gevind. Hy is vermoedelik in ʼn skietery met veldwagters dood. ʼn Woordvoerder van SANParke, Reynold Thakhuli, sê die liggaam is ontdek nadat drie veldwagters op patrollie op drie vermeende stropers afgekom het. Hy sê die veldwagters het die drie beveel om te stop, maar die vermeende stropers het op hulle losgebrand en hulle het teruggeskiet:
# President Donald Trump sê volgens ʼn nuwe ooreenkoms sal Amerika van sy beste wapens aan NAVO-lede verkoop, wat dit dan aan Oekraïne sal verskaf. Die wapens sluit in grond tot lug Patriot-missielstelsels en -batterye wat Kiev aangevra het om homself teen Russiese lugaanvalle te verdedig. Trump het gister by die Withuis gesê bykomende Patriot-stelsels sal binne dae in Oekraïne aankom. Dit word deur Duitsland en ander NAVO-lede befonds:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Banyana Banyana, het Mali met 4-0 verslaan om eerste te eindig in Groep C van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Lebohang Ramalepe het die eerste doel in die vierde minuut aangeteken en kaptein Refiloe Jane het die voorsprong in die eerste helfte verdubbel. Hildah Magaia het die derde doel in die 60ste minuut bygedra en plaasvervanger Ronnel Donnelly het die telling afgerond met haar eerste senior doel vir Suid-Afrika. Afrigter Desiree Ellis se span kom Saterdag in die kwarteindronde teen Senegal te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-458-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….