Nuus 13:00
BULLETIN 13 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa striem hoofregter Maya se opmerkings oor Mkhwanazi se bewerings
# ACSA skors sy sekerheidshoof te midde van beweerde operasionele onreëlmatighede
# En krieket: Die derde toets tussen Indië en Engeland is op ‘n mespunt
# Die Forum for South Africa het sy teleurstelling uitgespreek oor hoofregter Mandisa Maya se miskenning van die plofbare bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. FOSA-woordvoerder Tebogo Mashilompane sê Maya se opmerkings skep voortydige twyfel en die risiko van regterlike vooroordeel indien die saak in die hof beland. Hy waarsku haar reaksie ondermyn die openbare vertroue in die regbank en vra vir selfbeheersing en neutraliteit in sake met moontlike regsgevolge:
RISE Mzansi het intussen president Cyril Ramaphosa versoek om beslissende besluite te neem rakende bewerings van Mkhwanazi. Ramaphosa sal na verwagting vanaand die land toespreek oor sake van nasionale veiligheid na aanleiding van bewerings van politieke inmenging deur die polisiebestuur en polisieminister Senzo Mchunu. RISE Mzansi se sweep in die Nasionale Vergadering, Makashule Gana, eis ‘n kommissie van ondersoek en ferm uitvoerende optrede. Hy waarsku nasionale veiligheid is in gedrang:
# Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika het die uitvoerende hoof van onderneming-sekerheid en -nakoming, Mzwandile Petros, voorlopig geskors hangende ‘n onafhanklike ondersoek na beweerde operasionele onreëlmatighede. Die stap is daarop gemik om die integriteit van die proses te beskerm en ‘n billike ondersoek te verseker. Petros werk al sewe jaar vir die maatskappy. ACSA sê daaglikse bedrywighede sal nie beïnvloed word nie aangesien Mary-Ann Joubert as waarnemende hoof aangestel is om gladde verloop en bestendigheid te verseker by al nege lughawens insluitend die drie belangrikste doeanes wat deur die maatskappy bestuur word.
# Die DA in KwaZulu-Natal sê die Departement van Menslike Nedersettings het ‘n begroting van 3,9-miljard-rand vir 2024/25 bestee, maar kon nie daarin slaag om belangrike teikens te haal nie. Riona Gokool van die DA sê slegs 28-persent van die aanwysers is bereik. Sy sê geen titelaktes, opgraderings van informele nedersettings en gemeenskapseenhede is gelewer nie. Gokool doen ‘n beroep op dringende hervormings, verantwoordbaarheid en herstrukturering om die behuisingskrisis as gevolg van ondoeltreffendheid en swak beplanning op te los:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Blade Nzimande, sê Kenny Tenza van die WNNR is as waarnemende adjunkdirekteur-generaal: Tegnologie-innovasie, aangestel. Nzimande se woordvoerder, Veli Mbele sê die aanstelling van 12 maande benut Tenza se kundigheid in die kommersialisering van intellektuele eiendom in die landbou-, voedsel-, chemikalieë- en gesondheidsbedrywe. Hy sê sy kundigheid sal ‘n beduidende bydrae lewer tot die herindustrialisering van Suid-Afrika deur wetenskaplike innovasie:
# En krieket: Die derde toets tussen Engeland en Indië op Lord’s het gister ‘n boeiende derde dag beleef, met beide spanne wat hul eerste beurt op 387 afgesluit het, ‘n seldsame gebeurtenis in toetskrieket. KL Rahul se honderdtal, ondersteun deur Rishabh Pant op 74 en Ravindra Jadeja op 72, het Indië gehelp om Engeland se totaal te ewenaar. Engeland se snelboulers, insluitend die terugkerende Jofra Archer, het belangrike paaltjies geneem. Die dag is afgesluit met ‘n woordewisseling tussen Zak Crawley en Shubman Gill oor tydmors-taktiek. Engeland het ‘n voorsprong van twee lopies teen uitskeityd gehad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….