Nuus 11:00
BULLETIN 13 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi doen ‘n beroep op president Ramaphosa om op te tree oor die krisis in die polisie
# Die Sitruskwekersvereniging bevestig dat Amerikaanse uitvoere bestendig bly
# En Rusland verskerp sy bomaanvalle op Oekraïne
# RISE Mzansi het president Cyril Ramaphosa versoek om beslissende besluite te neem oor bewerings wat deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, gemaak is. Ramaphosa sal na verwagting vanaand die land toespreek oor sake van nasionale veiligheid na aanleiding van bewerings van politieke inmenging deur die polisiebestuur en polisieminister Senzo Mchunu. RISE Mzansi se sweep in die Nasionale Vergadering, Makashule Gana, eis ‘n kommissie van ondersoek en ferm uitvoerende optrede. Hy waarsku nasionale veiligheid is in gedrang:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, sê Vrydag se massaskietery in Bishop Lavis, wat die lewens van vier geëis het, beklemtoon die polisie se mislukkings. Twee gewapende mans het in ‘n huis in Reënbergstraat losgebrand voordat hulle met ‘n voertuig gevlug het. Nog niemand is gearresteer nie. Dit is die tweede massamoord in dieselfde straat in ‘n week. Cameron het die Teen-bende-eenheid genoop om sy ondersoek te bespoedig in die lig van oproepe vir polisiehervorming en intelligensiegedrewe reaksies.
# Die geskorste hoofbeleggingsbeampte van die Padongelukkefonds, Sefotle Modiba, beweer hy het grootskaalse bedrog by die agentskap blootgelê, insluitend uitbetalings wat uit omkopery voortspruit meestal aan wit regsfirmas, terwyl eise vir lang tye onbetaald gebly het. Modiba en die uitvoerende hoof, Collins Letsoalo het bewyse vir die beweerde sistemiese korrupsie onthul. Hulle sê hul skorsings is ‘n smeerveldtog om hervormingspogings te keer. Mobida sê hul omkeerstrategie het die fonds se sukseskoers tot 85-persent verhoog ten spyte van die sabotasie:
# Die Sitruskwekersvereniging sê Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere na die Verenigde State het bestendig gebly ondanks die instelling van ‘n invoertarief van tien-persent. Geen bestellings is tot dusver gekanselleer nie. Die tarief volg op ‘n afskaling van voorkeurbehandeling kragtens die Wet op Afrika Groei en Geleenthede, wat voorheen 1,7-miljard-rand se sitrusverkope ondersteun het. Die vereniging sê dat hoewel daar kommer is oor winsgewendheid, het produsente verskepings suksesvol herlei, met markaanpassing en diversifikasie wat die uitwerking daarvan versag het.
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky sê Rusland het 597 hommeltuie en 26 missiele in ‘n oornag-aanval op sy land gelanseer. Plaaslike owerhede sê ten minste twee burgerlikes is dood in die westelike Oekraïnse stad Chernivtsi. Intussen het die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, in Noord-Korea aangekom vir ‘n vergadering met die land se leier, Kim Jong Un. Rusland se ministerie van Buitelandse Sake sê hy het die leier in die hawestad Wonsan ontmoet. Lavrov, wat die week se Suidoos-Asiatiese Nasies-beraad in Maleisië bygewoon het, sal na verwagting tot Sondag aanbly.
# En rugby: ‘n Begeesterde Ierland het gister 16 drieë gedruk en ‘n tweedevlak Portugal met 106-7 in ‘n vriendskaplike wedstryd in Lissabon verpletter. Dit was die grootste oorwinning in hul 150-jarige bestaan en ook die eerste keer dat hulle meer as 100 punte aangeteken het. Die verskil van 99 punte oortref hul vorige beste toe hulle in 2000 die Verenigde State met 83-3 geklop het. Hulle het ook nog nooit 16 drieë in ‘n wedstryd gedruk nie. Ierland het elf verskillende puntemakers gehad. Met die strafdrie uitgesluit, het vleuel Tommy O’Brien en agtsteman Cian Prendergast beide twee keer gedruk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….