Nuus 07:00
BULLETIN 12 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal vandag die huldeblyk lewer by David Mabuza se Staatsbegrafnis
# ‘n Israelse amptenaar sê Iran kan steeds verrykte uraan herwin
# En tennis: Dit is Alcaraz teen Sinner in die Wimbledon-manseindronde
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die huldeblyk lewer tydens die Staatsbegrafnis van die voormalige adjunkpresident David Mabuza by Hoërskool Bergvlam in Mbombela. Mabuza, wat Donderdag oorlede is, sal vereer word met ‘n Staatsbegrafnis-kategorie 2. Hy het van 2018 tot 2023 as adjunkpresident gedien en sleutelrolle gespeel in die bekamping van MIV en TB, vredespogings in Suid-Soedan en provinsiale ontwikkeling. Daar sal volledige regerings- en diplomatieke eerbewys by die diens wees.
Intussen sê die direkteur van die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel, William Baloyi, nagenoeg drieduisend roubeklaers word vandag verwag by Mabuza se begrafnis. Internasionale hooggeplaastes word ook verwag by die diens wat om 9-uur begin. Hy het motoriste gewaarsku dat paaie van halfagt vanoggend af vir die verrigtinge gesluit sal word en om openbare veiligheid te verseker:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, veroordeel vissersgroepe wat dreig om van Maandag strate te versper en hawebedrywighede te ontwrig in St Helenabaai in die Wes-Kaap. George sê sulke optrede sal nie gemeenskapsregte bevorder nie en vra wetstoepassing om openbare veiligheid te beskerm. Hy waarsku ontwrigting en intimidasie benadeel die gemeenskappe wat hulle beweer om te ondersteun. Die minister beklemtoon geskille oor visvangregte moet deur behoorlike regskanale gevolg word.
# Israel glo Iran kan moontlik verrykte uraan herwin wat begrawe is onder een van die drie aanlegte wat Amerikaanse magte verlede maand aangeval het. ‘n Israelse amptenaar sê egter dit sal uiters moeilik wees om dit by Isfahan te bereik en enige pogings sal hernude Israeliese aanvalle ontlok. Israel is van mening Iran se kernprogram kan ‘n terugslag van twee jaar verwag. Die Amerikaanse president, Donald Trump, hou vol die kernaanlegte is heeltemal vernietig. Iran ontken dat hy kernwapens wil ontwikkel en sê sy uraanverryking is vir vreedsame doeleindes.
# Tennis: Dit het die wêreldnommer-een, Jannik Sinner, van Italië gisteraand slegs drie stelle geneem om ‘n sukkelende Novak Djokovic in hul halfeindstryd by Wimbledon uit te skakel. Die 38-jarige Serwiër, wat Woensdag in sy kwarteindstryd met Flavio Coboli geval het, was nie homself nie en is oorheers deur die 23-jarige Sinner. Dit het Djokovic se hoop op ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel gekelder. In die ander halfeindstryd het die Spanjaard, Carlos Alcaraz die Amerikaner, Taylor Fritz geklop en kom môre in ‘n spannende eindstryd teen sy aartsvyand Sinner te staan.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het byna nege-duisend besoekers by die nuwe Kgodumodumo-dinosourussentrum in die Golden Gate-Hoogland Nasionale Park in die Vrystaat verwelkom, sedert dit op 23 Junie geopen het. Die meeste besoekers was plaaslike reisigers uit die Vrystaat, Gauteng, en KwaZulu-Natal. Die sentrum se gewildheid het ‘n hupstoot gekry danksy die skoolvakansies en SANParke se gratis toegang tot 30 September. Die SANParke-woordvoerder JP Louw sê die sentrum bied interaktiewe uitstallings en fossielvertonings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….