Nuus 16:00
BULLETIN 11 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa moedig die vooraanstaande persone aan om inklusiwiteit by die nasionale dialoog te beskerm
# Rugby: Owen Farrell kan môre sy eerste wedstryd op die Leeus se huidige toer speel
# En TLU-SA kondig die finaliste vir vanjaar se Jongboer van die Jaar-kompetisie aan
# President Cyril Ramaphosa het die groep van vooraanstaande persone aangemoedig om toe te sien dat die nasionale dialoog inklusief en regverdig bly. Hy het met hulle eerste vergadering in die Uniegebou in Pretoria gesê die groep moet waak teen enige pogings om die dialoog vir politieke voordeel te gebruik of sekere stemme uit te sluit. Ramaphosa vra die groep om die prosesse versigtig te monitor, om bekommernisse uit te lig wanneer mense uitgesluit word, en te help om enige verwarring uit te skakel:
# Die DA het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien wat eis dat die ANC sy kennis rakende die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, se kaderontplooiing na SETA-rade openbaar maak. Die DA beweer sy het ANC-kaders in voorkeur-poste aangestel en daarna vir die Parlement gelieg. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, sê die stap is daarop gemik om die ANC se betrokkenheid by Nkabane se beweerde bedrog en magsmisbruik te ontbloot:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê sterrekunde bly een van Suid-Afrika se voorkeur-bedrywe. Hy sê bouwerk aan die Square Kilometer Array in die Noord-Kaap vorder goed en sal na verwagting teen 2030 voltooi wees. Die SKA-sterrewag-lidlande se algehele buitelandse belegging in Suid-Afrika vir die SKA Mid-Array is 9,5-miljard-rand. Nzimande sê uit hierdie bedrag word 3,2-miljard-rand aan die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag en Suid-Afrikaanse ondernemings toegeken deur middel van boukontrakte.
# Rugby: Engeland se gewese kaptein, Owen Farrell, kan moontlik môre in Adelaide sy eerste wedstryd van die huidige Britse en Ierse Leeus-toer speel teen ‘n gesamentlike Australies-Nieu-Seelandse span. Die losskakel is op die bank gekies nadat hy ‘n week gelede ingevlieg is om ‘n beseerde speler te vervang. Dit is die 33-jarige se vierde Leeus-toer. Farrell het die laaste van sy 112 toetse gedurende 2023 se Wêreldbekertoernooi gespeel. Die Leeus het hulle eerste vier wedstryde gewen en môre is hulle laaste voorbereidingswedstryd voor die eerste toets teen die Wallabies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-22-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-346-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-75-sent per vat.
# En laastens, die landbou-organisasie TLU SA het die ses finaliste vir 2025 se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Hulle is Thian Heyns van die Vrystaat en Tiaan Barkhuizen van die Noord-Kaap, asook Niel Booyens, Martin van Jaarsveld, Willem van der Merwe en Francois du Toit van Mpumalanga, wat as vennote ingeskryf het. Du Toit het ook op sy eie ingeskryf. Bennie van Zyl van TLU SA sê hierdie kompetisie vier jong landbouleiers wat met passie boer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….