Nuus 14:00
BULLETIN 11 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twaalf lede van die Weermag se Spesmagte kry borgtog in moord op Valke-ondersoeker
# Rugby: James O’Connor is terug in die Wallabies se toetsgroep vir die eerste keer in drie jaar
# En Ed Sheeran verruil musiek vir kuns
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het borgtog van tien-duisend-rand elk toegestaan aan twaalf lede van die Weermag se Spesiale Magte wat teregstaan vir die moord op ‘n ondersoeker van die Valke, Frans Mathipa. Die hoof-ondersoeker in misdade teen die staat is in Augustus 2023 op die N1 naby die Hammanskraal-tolplaza vermoor terwyl hy ‘n ontvoering ondersoek het. Die saak is tot Donderdag uitgestel terwyl die ondersoek voortduur. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die borgtog-beslissing is teleurstellend:
# Die media is verbied om die hofsaak van die omstrede tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala in Alexandra, Gauteng, regstreeks uit te saai. Hy staan tereg op aanklag van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg oor ‘n beweerde komplot om sy gewese vriendin, die aktrise en entrepreneur Tebogo Thobejane, te vermoor. Matlala word ook verbind met die huidige en die gewese minister van Polisie, Senzo Mchunu en Bheki Cele. Hy bly in aanhouding terwyl sy vrou en twee ander medebeskuldigdes uit is op borgtog. Die saak hervat op 26 Augustus.
# Die Gautrein-bestuursagentskap verander sy strategie om te strook met die 25-jaar Geïntegreerde Vervoermeesterplan in Gauteng, en begin met ‘n hersiening van sy uitbreidingsplanne. Uitvoerende hoof Tshepo Kgobe sê die fokus is nou daarop om onderbediende voorstede deur middel van ligte spoor- en regstreekse roetes te bereik. Hy sê die voorgestelde netwerk-uitbreiding sal groei vanaf 150-kilometer tot byna 300-kilometer, met nuwe aansluitingspunte, insluitend Mamelodi, Springs en Alberton, en die integrasie van privaat befondsing vir langtermyn volhoubaarheid.
# Rugby: Die losskakel James O’Connor keer die eerste keer sedert 2022 terug na die Wallabies se groep van 36 vir die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus. Die 35-jarige O’Connor vervang Noah Lolesio, wat ‘n nek-operasie ondergaan het. Die eerste toets is volgende naweek op die Suncorp-stadion in Brisbane. O’Connor, wat in 2013 vir die Wallabies gespeel het toe hulle die reeks teen die Leeus 2-1 verloor het, sê hy is opgewonde om in hierdie spesiale reeks te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-217-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-43-sent per vat.
# En laastens, oorspronklike kunswerke en afdrukke deur die bekroonde Britse sanger en liedjieskrywer Ed Sheeran is tot 1 Augustus te sien in ‘n nuwe uitstalling in die Heni-galery in sentraal-Londen. Geld wat met die uitstalling ingesamel word, sal aan die Ed Sheeran-stigting gaan om om inklusiewe, hoëgehalte-musiekonderrig aan kinders van alle agtergronde te bied. Die uitstalling heet Cosmic Carpark Paintings. Sheeran sê hy was nog altyd geïnteresseerd in skilderkuns:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….