Nuus 11:00
BULLETIN 11 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die mega-staatsonderneming sal ‘n teelaarde wees vir grootskaalse ANC-korrupsie
# Die Parlement is bekommerd oor die moorde op openbare ampsdraers
# En, die VN veroordeel Amerikaanse sanksies teen sy spesiale gesant
# Die DA maak beswaar teen die ANC se voorstel vir ‘n mega-staatsinstelling en sê dit sal ʼn geleentheid wees vir grootskaalse korrupsie. Dit sal Suid-Afrikaanse belastingbetalers volgens berigte meer as 600-miljoen-rand kos om die instelling te stig wat alle staatsondernemings sal beheer. Darren Bergman van die DA sê geldige kommer bestaan oor die Wetsontwerp op Nasionale Staatsinstellings wat alle staatsondernemings in een houermaatskappy wil plaas met oorsig deur die president:
# Die EFF sê die versuim om geslagsgeweld- en kinderonderhoud-sake op te los is nie net weens onbevoegdheid nie, maar ook doelbewuste korrupsie en agterlosigheid in die polisiediens. Statistieke toon meer as 33-persent vroue bo 18 het fisiese geweld beleef. In Februarie 2024 was daar landwyd 170-duisend onafgehandelde kinderonderhoud-aansoeke. Die EFF sê te veel vroue en kinders kry nie geregtigheid nie omdat polisiebeamptes hul mag misbruik, ondersoeke vertraag of oortreders beskerm.
# Die parlementêre gekose komitee oor Toewysings veroordeel die moorde op openbare ampsdraers wat in die uitvoering van hul pligte afkom op korrupsie en dit aanmeld. ‘n ANC-raadslid van Tshwane, Thabang Masemola, is Dinsdag vermoor terwyl die hoof van Ekurhuleni se Korporatiewe en Forensiese Ouditdepartement, Mpho Mafole, verlede week doodgeskiet is. Die komitee se voorsitter, Tidimalo Legwase, sê Mafole se moord is ʼn lafhartige daad wat diegene wil intimideer wat die openbare sektor probeer regruk. Sy vra dringende maatreëls om verklikkers te beskerm.
Nou nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies sê sanksies teen spesiale gesante skep ʼn gevaarlike presedent. Dit volg nadat Amerika sanksies ingestel het teen die Verenigde Nasies se spesiale gesant vir die Wesoewer en Gaza, Francesca Albanese. Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê dis gedoen omdat sy regstreeks met die Internasionale Strafhof kontak het in sy pogings om Amerikaanse of Israelse burgers te vervolg. Die VN se woordvoerder, Stéphane Dujarric, beklemtoon die onafhanklike mandaat en rol van spesiale gesante:
# Rugby: Die Springbok-vroue wat môre in Gqeberha teen Kanada speel, het ‘n onmiskenbare Oos-Kaapse geurtjie nadat afrigter Swys de Bruin verskeie veranderings aan sy groep gemaak het. Hy het Byrhandrѐ Dolf en Eloïse Webb van die bank na die opdrafspan verskuif. Dolf, wat van Uitenhage kom, begin op heelagter en Webb, ‘n oudstudent van die Nelson Mandela-universiteit wat van Oos-Londen kom, is die losskakel. Nadine Roos is intussen van heelagter na skrumskakel verskuif om nader aan die aksie te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80 sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-11 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-610-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-95 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….