Nuus 09:00
BULLETIN 11 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Mega-staatsinstelling sal ‘n teelaarde vir korrupsie wees
# Die EU-hoof Ursula von der Leyen oorleef ‘n mosie van wantroue
# En krieket: Engeland en Indië is bekommerd oor beserings
# Die DA maak beswaar teen die ANC se voorstel vir ‘n mega-staatsinstelling en sê dit sal ʼn geleentheid wees vir grootskaalse korrupsie. Dit sal Suid-Afrikaanse belastingbetalers volgens berigte meer as 600-miljoen-rand kos om die instelling te stig wat alle staatsondernemings sal beheer. Darren Bergman van die DA sê geldige kommer bestaan oor die Wetsontwerp op Nasionale Staatsinstellings wat alle staatsondernemings in een houermaatskappy wil plaas met oorsig deur die president:
# Die GOOD-party verwelkom die vonnis van die apartheid-polisieman en moordenaar, Johan Marais. Die Hooggeregshof in Pretoria het die 66-jarige Marais tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord in Augustus 1987 op die studenteaktivis, Caiphus Nyoka. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die skuldigbevinding is belangrik om die beginsels van reg en integriteit in die Waarheid- en Versoeningskommissie se proses te herbevestig:
# City Power sê hy is besig met ‘n verskerpte veldtog teen misdadige optrede wat Johannesburg se kraginfrastruktuur bedreig. Dit volg op twee voorvalle vandeesweek. In die eerste voorval is ‘n kontrakteur-tegnikus van City Power by ‘n huis in Roodepoort gyselaar gehou en fisiek aangerand terwyl hy ‘n kragmeter en -aansluiting wou ontkoppel. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê in die tweede voorval is ‘n elektrisiteitsindikaat in Lenasia blootgelê:
# Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, het gister ʼn mosie van wantroue in die Europese Parlement oorleef. Die mosie hou verband met haar weiering om teksboodskappe bekend te maak wat tydens die Covid-19-pandemie met die uitvoerende hoof van die entstofvervaardiger Pfizer uitgeruil is. Slegs 175 parlementslede het die mosie ondersteun terwyl 360 daarteen gestem en 18 buite stemming gebly het. Von der Leyen verwerp kritiek oor haar hantering van die pandemie en sê haar benadering het verseker dat daar in die Europese Unie gelyke toegang tot entstof was.
# Krieket: Engeland is baie bekommerd oor die fiksheid van sy kaptein, Ben Stokes, nadat hy op die eerste dag van die derde toets teen Indië op Lord’s ‘n liesbesering opgedoen het. Hy het op die veld behandeling ontvang en het tussen die paaltjies gehink. Stokes het onoorwonne gebly op 39 saam met Joe Root op 99, nie uit nie, terwyl Engeland 251 vir vier bereik het. Intussen het Indië sy eie krisis gehad met die besering van Rishabh Pant wat halfpad deur die eerste dag met ‘n beseerde vinger van die veld af is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76 sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-6 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-606-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-64 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….