Nuus 08:00
BULLETIN 11 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp die ‘besuinigings-gedrewe’ basiese onderwysbegroting
# Die NVG verwelkom die vonnis van ‘n apartheidspolisiebeampte vir die moord op ’n aktivis in 1987
# En ‘n Israelse aanval eis die lewens van 15, insluitend tien kinders
# Die EFF het Basiese Onderwys se 2025/2026-begroting verwerp en sê dis besuinigings-gedrewe en teen armes gemik en spreek nie die sistemiese verval van openbare onderwys aan nie. Die departement het ‘n totale begroting van meer as 35-miljard-rand ontvang, wat agt-persent meer is as in 2025. Die voorwaardelike toelaag vir Vroeëkinderjare-ontwikkeling is tot 1,7-miljard-rand verhoog. EFF-woordvoerder Mandla Shikwambana sê dis onaanvaarbaar dat landelike en township-skole steeds agterstande het wat infrastruktuur en digitale toegang betref:
# Die Presidensie en die Nasionale Tesourie sê die jongste Operasie Vulindlela-verslag toon bestendige vordering met ekonomiese hervorming ten spyte van struikelblokke. Die Januarie tot Maart-verslag vir 2025/26 beklemtoon mylpale tydens Fase twee, onder meer die aanvoorwerk vir Onafhanklike Transmissieprojekte, vraglogistiek-vennootskappe en plaaslike regeringshervormings. Die Kabinet het ook die Digitale Transformasie-padkaart goedgekeur. Die Presidensie en die Nasionale Tesourie sê die gesamentlike inisiatief gaan voort met strukturele hervormings in elektrisiteit, water, telekommunikasie en staatsbestuur om inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei te bevorder.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnis van 15 jaar tronkstraf vir die gewese apartheidspolisieman Johan Marais, wat die studente-aktivis Caiphus Nyoka in 1987 vermoor het. Dit is die NVG se eerste vonnis in ‘n saak uit die Waarheids- en Versoeningskommissie. Marais het skuld erken aan moord met voorbedagte rade wat op polisiebevel uitgevoer is. Die Hooggeregshof in Pretoria het sy pleidooi vir versagting verwerp weens ‘n gebrek aan berou. Lumka Mahanjana van die NVG beskryf die vonnis as ‘n beduidende oorwinning:
# Minstens 15 mense waaronder tien kinders is gister dood in ʼn Israelse aanval buite die Amerikaanse Project HOPE-kliniek in Sentraal-Gaza. Die aanval voor die Altayara-kliniek het volgens berigte plaasgevind terwyl mense buitekant gewag het vir behandeling teen wanvoeding, infeksies, chroniese siektes en meer. Die Israelse Weermag sê hy het ʼn Hamas-terroris in sy visier gehad wat deel was van die aanval op 7 Oktober 2023, maar is jammer dat ander individue geraak is.
# Gholf: Sepp Straka van Oostenryk, wat sy derde PGA-toer van die jaar wil wen, is onder vier spelers wat gesamentlik voorloop met ses onder baansyfer ná die eerste ronde van die Skotse Ope by die Renaissance-klub. Straka is voor saam met die Amerikaner Jake Knapp, Victor Perez van Frankryk en Nico Echavarria van Colombië. Die Skot Bob MacIntyre het sy titel begin verdedig met twee onder 68 saam met Rory McIlroy van Noord-Ierland, een minder as die wêreld-nommer-een van Amerika, Scottie Scheffler, en Ludvig Aberg van Swede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75 sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-6 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-634-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-334-dollar-74 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….