Nuus 16:00
BULLETIN 10 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige apartheidsera-polisielid word tot 15 jaar gevonnis vir die moord op ‘n studente-aktivis in 1987
# Die soektog na oorlewendes gaan voort nadat Hoethi-rebelle ‘n tweede vragskip in die Rooi See sink
# En rugby: Die Oos-Kaap vra ondersteuning vir die Bokke in Saterdag se tweede toets teen Italië
# Die voormalige apartheidsera-polisielid Johan Marais is tot 15-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die studente-aktivis Caiphus Nyoka in 1987. Die 66-jarige Marais het vroeër in die Hooggeregshof in Pretoria erken hy het Nyoka by sy huis in Daveyton doodgeskiet. Voorsittende regter Mokhine Mosopa het gesê die vonnis moet as straf sowel as afskrikmiddel dien. Die skuldigbevinding volg na ‘n dekade-lange strewe na geregtigheid vir Nyoka se familie. Marais het erken dat hy opdragte gevolg het, maar het ’n pleitooreenkoms geweier om teen sy mede-beskuldigdes te getuig.
# Die DA sê die ondersoekverslag na die Vloot-tragedie in Kommetjie, Kaapstad, moes lankal aan die Valke oorhandig word om klagtes van strafbare manslag te ondersoek, maar dit is ‘n noodsaaklike eerste stap op die pad na geregtigheid. Luitenant-kommandeur Gillian Hector, meester-adjudant-offisier William Mathipa en adjudant-offisier Mokwapa Mojela is in September 2023 in die duikboot-tragedie dood. Die DA-lid, Chris Hattingh, sê die keuse om voort te gaan met ‘n hoërisiko-vertikale oorplasingsoefening was uiters roekeloos:
# Tien bemanningslede is gered, maar ten minste drie is dood toe Jemeense Hoethi-rebelle ‘n vragskip in die Rooi See aangeval het. Die Britse agentskap vir maritieme handelsoperasies sê die Eternity C, met ‘n bemanning van 25 lede, is getref deur vuurpyl-aangedrewe granate wat van klein bote afgevuur is. Die Irans-gesteunde Hoethi’s sê hulle het die skip aangeval omdat dit op pad na Israel was, en het ‘n onbekende aantal bemanningslede na ‘n sogenaamde veilige plek geneem. Die Amerikaanse ambassade in Jemen het intussen gevra vir hul onmiddellike vrylating.
# Rugby: Die Oos-Kaapse regering vra mense om die Springbokke te ondersteun in Saterdag se tweede toets teen Italië in Gqeberha. Nelson Mandelabaai se eerste toets in vier jaar sal ‘n tuiskoms wees vir afrigter Rassie Erasmus en spelers soos Makazole Mapimpi, wat van Mdatsane kom. Die provinsiale regering se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê die wedstryd is ‘n trotse oomblik vir die provinsie en die Bokke is ‘n samebindende krag en simbool van nasionale trots:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-858-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het die bekendstelling verwelkom van twee nuwe digitale visum-stelsels by die Department van Binnelandse Sake, wat die rolprent- en gebeurtenissektor ’n hupstoot kan gee. Die Stages-visum sal toegang tot die land vergemaklik vir internasionale rolprentmakers terwyl die Meets-visum toegang vir besoekers aan wêreldgeleentheid makliker maak. Ses-en-dertig belangrike aanbiedings word gedurende die 2024/25-boekjaar in Kaapstad verwag. Die visums behoort beleggings, toerisme en werkskepping te bevorder wat die Moederstad se posisie as ‘n wêreldwye rolprent- en gebeurtenissentrum sal versterk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….