Nuus 15:00
BULLETIN 10 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voormalige apartheidsera-polisielid word tot 15 jaar gevonnis vir moord op Nyoka in 1987
# Die DA dien bykomende klagte teen minister Mchunu in by Parlement se Etiekkomitee
# En krieket: Die IPL se bedryfswaarde styg tot ‘n geraamde 330-mijard-rand
# Die voormalige apartheidsera-polisielid Johan Marais is tot 15-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die studente-aktivis Caiphus Nyoka in 1987. Die 66-jarige Marais het vroeër in die Hooggeregshof in Pretoria erken hy het Nyoka by sy huis in Daveyton doodgeskiet. Voorsittende regter Mokhine Mosopa het gesê die vonnis moet as straf sowel as afskrikmiddel dien. Die skuldigbevinding volg na ‘n dekades-lange strewe na geregtigheid vir Nyoka se familie. Marais het erken dat hy opdragte gevolg het, maar het ’n pleitooreenkoms geweier om teen sy mede-beskuldigdes te getuig.
# Die DA het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, by die Parlement se Etiekkomitee verkla nadat die party vanoggend ook strafregtelike klagtes teen hom gelê het. Die DA sê Mchunu het die Parlement mislei oor sy bande met die omstrede sakeman Brown Mogotsi en glo dis ‘n oortreding van die etiese standaarde wat verwag word van openbare verteenwoordigers. Dit volg nadat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, Mchunu beskuldig het van inmenging by polisie-ondersoeke. Baxolile Nodada van die DA eis ‘n volledige ondersoek:
# Cosatu het die moontlike strafregtelike klagte geloof teen diegene wat verantwoordelik is vir die instorting van ‘n gebou in George in Mei verlede jaar waarin 34 werkers dood en 28 beseer is. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die klagte bevestig, nadat verslae ingewortelde mislukkings en ongekwalifiseerde personeel aangedui het. Die Ingenieursraad se finale verslag dui op professionele nalatigheid. Zanele Sabela van Cosatu sê hulle sal aandring op volle aanspreeklikheid:
# Krieket: Die Indiese Premierliga se bedryfswaarde het tot ‘n geraamde 330-mijard-rand gestyg, met hierdie jaar se kampioenspan, Royal Challengers Bengaluru, wat nou die rykste franchise is. Die Amerikaanse beleggingsbank Houlihan Lokey sê dis ‘n verhoging van 13,8-persent teenoor verlede jaar. RCB het nou ‘n handelsmerkwaarde van 4,8-miljard-rand, gevolg deur Mumbai Indians met 4,3-miljard en Chennai Super Kings met 4,2-miljard. Die bank beskryf die IPL in sy verslag as ‘n internasionale verskynsel wat steeds die maatstaf in sportsake stel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-186-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte, die Mdluli Safari Lodge op die grens van die Krugerwildtuin langs die Numbi-hek, is ‘n werkende voorbeeld van ‘n grondeis wat in ‘n suksesvolle gemeenskapstoerisme-projek omskep is. Die direkteur van die lodge, Chris Schalkwyk, sê die visie was die breinkind van hoofman MZ Mdluli. As gevolg van omgewingsgoedkeurings en kapitaalverkryging het dit vier jaar geneem om die grond terug te kry en nog 27 jaar voor die lodge gebou kon word. Die lodge bied tans permanente werk aan 130 mense.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….