Nuus 09:00
BULLETIN 10 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Afrikaners sal hul opsies in Suid-Afrika moet heroorweeg
# Die GOOD-party sê die regering moet optree teen gesondheidsorg-vigilantes
# En Houthi-rebelle vermoor vier in ‘n aanval op ‘n vragskip in die Rooi See
# Die Vryheidsfront Plus sê tydens die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se begrotingspos in die Parlement, was vooroordeel teen wit mense, veral Afrikaners, baie duidelik. Wynand Boshoff van die party sê verteenwoordigers van die MK-party en EFF het herhaaldelik na wit mense as “gronddiewe” verwys en gesê die teiken dat 30-persent van alle grond teen 2030 in swart besit moet wees, is onvoldoende. Boshoff sê Afrikaners moet hul opsies heroorweeg as hulle ‘n toekoms in Afrika wil verseker:
# Die GOOD-party sê die regering moet ʼn streng boodskap stuur aan die vreemdelingehaters wat buitelanders in Gauteng en KwaZulu-Natal toegang tot gesondheidsgeriewe weier. Operasie Dudula het verlede week buitelanders gekeer om mediese sorg te kry, onder meer by die Addington-hospitaal, Gateway-kliniek en RK Khan-hospitaal in Chatsworth. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die Grondwet waarborg gesondheidsorg vir almal in die land. Hy sê mense wat reg in eie hande neem, moet gearresteer en vervolg word:
# Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, verwelkom die goeie vordering met die transformator-diefstalsaak van sewe-miljoen-rand. Drie amptenare staar aanklagte van diefstal van noodsaaklike infrastruktuur in die gesig nadat ʼn transformator in November verlede jaar by die Claudius-substasie in Laudium gesteel is. Hulle is uit op borgtog. Nog ʼn verdagte, vermoedelik die transformator se koper, sal môre vir borgtog aansoek doen. Die metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die werkers staar ook interne tugprosesse in die gesig:
# Minstens vier mense is dood na Houthi-rebelle ‘n vragskip in die Rooi See gesink het terwyl talle ander bemanningslede ontvoer is. Altesaam 22 bemanningslede, meestal Filippyne, was aan boord, asook ‘n sekuriteitspan van drie lede. Beeldmateriaal wat die militante groep vrygestel het, toon hoe gewapende mans aan boord van die skip gaan wat deur Griekeland bedryf word en onder die Liberiese vlag vaar, en ‘n reeks ontploffings veroorsaak. Die skip het daarna gesink. Ses mense is gered, maar die lot van 15 bemanningslede is onbekend.
# Sokker: Die UEFA-ligakampioenskap-wenners, Paris Saint-Germain, het Real Madrid met 4-0 in die New Yorkse MetLife-stadion afgeransel om die Wêreldklubkampioenskap-eindstryd te haal. Luis Enrique se span was na slegs 24 minute met 3-0 voor met twee doele deur Fabián Ruiz en een deur Ousmane Dembélé. Die plaasvervanger Goncalo Ramos het die vierde doel aangeteken. PSG is die groot gunstelinge wanneer hulle Chelsea in Sondag se eindstryd pak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-62-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….