Nuus 08:00
BULLETIN 10 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party open ‘n strafsaak teen minister Mchunu en kommissaris Sibiya
# Die DA in Tshwane behaal ‘n dubbele oorwinning
# En tennis: Dis Djokovic teen Sinner in die Wimbledon-halfeindstryd
# Die MK-party het ‘n strafsaak teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu en adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya by Pretoria se Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak. Dit is vir meineed en regsverydeling ná bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi. Hy het beweer dat Mchunu en Sibiya medepligtig is by ‘n sindikaat, beheer deur dwelmkartelle en sakelui, wat georganiseerde misdaad in die land geïnfiltreer het. David Skosana van die MK-party het aan die SABC gesê aanspreeklikheid is die sleutel:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die Tesourie het 750-miljoen-rand aan die departement toegeken om die finansieringsgaping te vul wat gelaat is deur Amerika se onttrekking aan die President se Noodplan vir Vigsverligting. Pepfar-befondsing het slegs 17-persent van die land se MIV-reaksiebefondsing uitgemaak. Motsoaledi het aan die Parlement gesê 590-miljoen-rand sal aan provinsies toegeken word deur die omvattende MIV/Vigs-afdeling van die toelaag vir die distriksgesondheidsprogram. Hy sê die regering is daartoe verbind om MIV/Vigs as ‘n openbare gesondheidsbedreiging teen 2030 uit te skakel.
# Die DA in Tshwane het die tussenverkiesing in wyk 44 met raadslid Samantha de la Rey gewen en in wyk 98 met Mickey van der Westhuizen. In wyk 44 het die party se stemme van 74,3-persent in die 2024 nasionale en provinsiale verkiesings tot 88,07-persent vanjaar gestyg. In wyk 98 het die party se stem-aandeel gestyg van 37,5-persent tot 72,77-persent. Die DA-koukusleier in Tshwane, Cilliers Brink, sê hierdie uitslae is ‘n groot hupstoot in aanloop tot volgende jaar se plaaslike verkiesing:
# Amerika stel sanksies in teen ʼn spesiale verslaggewer van die Verenigde Nasies se Menseregteraad, Francesca Albanese. Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die sanksies teen Albanese is omdat sy regstreeks met die Internasionale Strafhof kontak het in sy pogings om Amerikaanse of Israelse burgers te vervolg. Rubio beskuldig Albanese ook van anti-Semitiese uitlatings, ondersteuning van terrorisme en openlike minagting vir Amerika, Israel en die Weste. Albanese is ʼn groot ondersteuner van die Strafhof se lasbriewe vir inhegtenisname teen Israelse amptenare, insluitend eerste minister Benjamin Netanyahu.
# Tennis: Die sewemalige Wimbledon-kampioen, Novak Djokovic, en die wêreld-nommer-een van Italië, Jannik Sinner, takel mekaar in die halfeindronde. Die Serwiër het die Italianer, Flavio Cobolli verslaan, terwyl Sinner die Amerikaner Ben Shelton geklop het. In die vroueafdeling is Iga Swiatek van Pole en die Switser, Belinda Bencic, albei deur na hulle eerste halfeindronde in die grasbaan-Grand Slam. Djokovic sê dis spesiaal om sy 14de halfeindronde te bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-164-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….