Nuus 07:00
BULLETIN 10 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motshekga sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sal goed toegerus word
# Donald Trump wil betrekkinge met Afrika versterk
# En rugby: Die Junior Bokke klop Skotland oortuigend en dring deur na die O.20-kampioenskap-halfeindstryd
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê ten spyte van finansiële beperkinge sal die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag die nodige hulpbronne hê om die land te verdedig en te beskerm. Die departement het ‘n begroting van 57-miljard-rand ontvang vir die 2025/2026-boekjaar, waarvan 64-persent bestee word aan salarisse van soldate, generaals en personeel. Motshekga het aan die Parlement gesê terwyl soldate ontplooi is, sal hulle voorkeurondersteuning kry vir alles wat hulle nodig het:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n begroting van 7,6-miljard-rand vir 2024/25 ter tafel gelê met die fokus op die stryd teen korrupsie, die doeltreffende lewering van infrastruktuur, asook die oorskakeling na digitale prosesse. Kernhervormings sluit in leefstyl-oudits, die stryd teen die konstruksiemafia, en die optimalisering van bates. Macpherson sê die departement moet wanbestuur beëindig en werkskepping aanmoedig. Hy beklemtoon dat die Uitgebreide Openbare Werkeprogram sal aanhou om sy mandaat uit te voer om armoede en werkloosheid te verminder:
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sê die gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming dwing maatskappye om werkgewers op grond van ras aan te stel te midde van dreigemente van swaar strawwe. Die organisasie glo hierdie benadering is ongrondwetlik, onrealisties en skadelik vir die ondernemings en die ekonomie. Die organisasie het by Sakeliga aangesluit om die wet in die Hooggeregshof in Pretoria te betwis. NEASA se uitvoerende hoof, Gerhard Papenfus, voer aan hierdie kwotas kan spanning in die werkplek veroorsaak en produktiwiteit verminder:
# ActionSA sal vandag ‘n plakkaatbetoging hou voor die provinsiale hoofkwartier van die polisie in KwaZulu-Natal om aan te dring op onmiddelike optrede oor die verergerende krisis in die polisie en die regstelsel. Dit volg na skokkende bewerings deur die provinsiale polisiekommisaris, Nhlanhla Mkhwanazi, oor politieke korrupsie en die misbruik van polisiefondse. ActionSA sê die korrupsie moet van binne wetstoepassing uitgeroei word. Hulle vra aanspreeklikheid om Suid-Afrika se onbeheerde misdaadsyfer aan te pak.
# President Donald Trump van Amerika sê sy administrasie wil sy verhoudings in Afrika deur ekonomiese ontwikkeling versterk. Hy het gister leiers van Gaboen, Guinee-Bissau, Liberië, Mauritanië en Senegal by die Withuis ontvang om handel, immigrasie en verdediging te bespreek. Daar bestaan tans twyfel of Amerika die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika gaan hernu wat belastingvrye toegang vir sekere goedere uit Afrika waarborg. Trump sê daar is groot ekonomiese moontlikhede in Afrika:
# Rugby: Die Junior Springbokke het Skotland met 73-14 afgeransel om hul plek in die Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap in Italië te bespreek. Suid-Afrika het elf drieë gedruk met vleuel Jaco Williams en skrumskakel Ceano Everson wat elk twee drieë gedruk het. Dis die Junior Bokke se derde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning in die kompetisie se groepsfase. Suid-Afrika het ook met Australië en die verdedigende kampioene van Engeland afgereken om die halfeindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-243-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….