Nuus 07:00
BULLETIN 9 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê die 30-persent tarief sal ekonomiese groei, werkgeleenthede en die handel knou
# Die Verbruikerskommissie bevestig verskeie voertuigherroepings
# En krieket: Temba Bavuma is benoem vir drie Krieket Suid-Afrika-toekennings
# Die parlementêre gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel sê hy is bekommerd oor die 30-persent tariefverhoging wat die Amerikaanse regering op Suid-Afrikaanse uitvoere gaan instel. Die komiteevoorsitter, Sonja Boshoff, sê die tarief ondermyn die geskiedkundige handelsamewerking tussen Amerika en Suid-Afrika en is ‘n ernstige bedreiging vir strategiese sektore soos sitrus, makadamia, voertuigonderdele, staal en aluminium. Die land se sitrusbedryf alleen ondersteun meer as 35-duisend werksgeleenthede en dra jaarliks meer as 38-miljard-rand by tot die ekonomie.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê Volkswagen, Volvo en Toyota herroep sekere voertuie as gevolg van veiligheidskwessies. Volkswagen herroep Golf 8 modelle as gevolg van ‘n fout met ‘n sitplekgordel wat beserings in ‘n botsing kan veroorsaak. Volvo herroep sekere XC90 hibriede-voertuie vir ‘n remprobleem teen afdraandes. Phetho Ntaba van die kommissie vra eienaars wat geraak word, om handelaars te besoek vir ‘n gratis veiligheidstoets:
# Die vakbond, Numsa, sê hy beraadslaag met sy lede oor ʼn moontlike staking by die Gautrein. Die vakbond verwerp die salarisverhoging van 4,2-persent wat Bombela Operating Company, wat die Gautrein bestuur, aanbied. Numsa se nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle eis sewe-persent vir almal, asook ʼn verhoging in behuising- en vervoertoelaes:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê Europese lande moet hul oorafhanklikheid van Amerika en China afskud. Hy het Dinsdag die Verenigde Koninkryk se Parlement toegespreek as deel van sy staatsbesoek aan die land. Macron sê die Europese demokratiese model word bedreig deur buitelandse inmenging, die manipulering van inligting, gesonde verstand wat deur negatiewe emosies oorheers word, en verslawing aan sosiale media:
# Krieket: Kaptein Temba Bavuma, wat die Proteas na hul eerste Wêreld-toetskampioenskapstitel gelei het, is vir drie Krieket Suid-Afrika-toekennings benoem. Hy is saam met Kagiso Rabada, Marco Jansen, Ryan Rickelton en Keshav Maharaj benoem as Manspeler van die Jaar. Bavuma is ook benoem as Toetsspeler van die Jaar en Ondersteuner-speler van die Jaar. Annerie Dercksen, Marizanne Kapp, Nonkululeko Mlaba en Laura Wolvaardt ding mee vir die titel van Vrouespeler van die Jaar. Die toekenningsgeleentheid vind op 31 Julie by Emperors Palace plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-79-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-300-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal, Demi-Leigh Tebow, en haar man, die Amerikaanse voetbalster Tim Tebow, het hul eersteling verwelkom, ‘n babadogter, Daphne Reign. Demi-Leigh sê die naam is ter ere van ‘n geliefde familie-matriarg en weerspieël haar Christelike geloof. Sy verduidelik die naam Daphne is geïnspireer deur haar tante en Reign is ‘n geestelike simbool. Die paartjie sê hul dogter is gebedsverhoring en geskep om met ‘n doel, in liefde en identiteit te heers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….