Nuus 16:00
BULLETIN 8 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aartsbiskop Makgoba versoek ‘n ses-weke-ondersoek na die leierskapskrisis in die polisie
# Houthi-rebelle val weer vragskepe in die Rooi See aan
# En tennis: Paolini dank haar afrigter af nadat sy in Wimbledon se tweede ronde verloor
# Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, versoek ‘n dringende voorlopige ondersoek na die voortslepende krisis in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se leierskap. Hy vra president Cyril Ramaphosa om ‘n paneel met regters, wetstoepassingskundiges en ondersoekers met integriteit aan te stel om die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings van politieke inmenging te beoordeel en dan binne ses weke terugvoer te gee. Makgoba sê die publiek verloor vertroue in die polisie te midde van ernstige bewerings en interne konflik.
BOSA vra Ramaphosa intussen om vinnig ‘n geloofwaardige, gekwalifiseerde en gerespekteerde ambassadeur in Washington aan te stel. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het gister aangekondig ‘n tarief van 30-persent sal van 1 Augustus af gehef word op alle Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hierdie soort straftariewe sal ‘n verlammende uitwerking op belangrike uitvoere hê, insluitend die voertuig-, landbou-, staal- en mynbousektor:
# ‘n Beskadigde vragskip is in die Rooi See aangeval nadat Houthi-rebelle van Jemen ‘n maandelange stilstand in hul teisteringsveldtog van die noodsaaklike maar onbestendige seeroete beëindig het. Die Liberiese massa-draer Eternity is aangeval kort nadat die Irans-gesteunde Houthis aanspreeklikheid aanvaar het vir ’n vroeëre aanval op ’n ander vragskip, die Magic Seas. Die Houthi’s het nog nie aanspreeklikheid aanvaar vir die jongste voorval nie. Hulle het gister gesê dat hulle onbemande bote, missiele en hommeltuie teen die Magic Seas gebruik het in hulle eerste aanval op ‘n vragskip vanjaar.
# Tennis: Die wêreld-nommer-vier, Jasmine Paolini, het haar afrigter, Marc Lopez, afgedank nadat sy vroeg uitgeskakel is op Wimbledon. Die 29-jarige Italianer was verlede jaar in die eindstryd, maar het nou in die tweede ronde teen Kamilla Rakhimova van Rusland vasgeval. Die Spanjaard het Paolini in April begin afrig. Lopez is ‘n voormalige wêreld-nommer-drie in die dubbelspel en was voorheen deel van sy beroemde landgenoot Rafael Nadal se afrigtingspan. Paolini het onder sy leiding die Italiaanse Ope gewen, asook die dubbelspel op die Franse Ope saam met haar landgenoot Sara Errani.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-722-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-18-sent per vat.
# En laastens, die Stad Kaapstad se eerste gevorderde waterherwinningsaanleg het erkenning ontvang op die toonaangewende 13de jaarlikse Architizer A+toekennings. Dis aangewys as jurie-wenner in die kategorie vir Fabrieke en Pakhuise. Die Kaapse Vlakte se Gevorderde Waterherwinningsaanleg is uit meer as vyf-duisend inskrywings uit 80 lande aangewys as een van die wêreld se bes-ontwerpte geboue in sy kategorie. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê dis ‘n merkwaardige prestasie vir Suid-Afrikaanse argitektuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….