Goeie Nuus
BULLETIN 8 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die koor van die Universiteit Stellenbosch het drie goue medaljes gewen op die Interkulturele Europese Koorspele en Grand Prix van Nasies 2025 in Aarhus, Denemarke. Altesaam 132 kore van 33 lande het in verskeie kategorieë meegeding. Die Matie-koor het goud gewen in die drie kategorieë waarin hulle meegeding het: volwasse kore; jazz, pop, show; en Musica Sacra a Cappella. Die dirigent, André van der Merwe, sê hy is baie trots op sy studente:
# Die Rhodes-universiteit het twee silwer- en een brons Ovation-toekennings ontvang op vanjaar se Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap. Die silwer is toegeken aan a die krities bekroonde A Childhood in Chalk, en s’il vous plait – ’n verleidelike kabaret deur musiekdosent Garreth Robertson en uitvoerende kunstenaar Mistress Mae Aisitahn-Yafais. Ndingekafi: Whispers of Redemption – uitgevoer deur die Kwantu-koor, wat huidige en voormalige Rhodes-studente insluit, het ’n brons-toekenning ontvang. Die toekennings vereer produksies wat gehore ontroer, gesprekke aanwakker en tegniese en kreatiewe uitnemendheid vertoon.
# Drie-en-tagtig plesierbote het in die 2024/25-seisoen in Kaapstad vasgemeer. Elf skepe het die Moederstad die eerste keer besoek en die aantal passasiers en bemanningslede het met 16-persent toegeneem. Die seisoen het 1,32-miljard-rand tot die plaaslike ekonomie bygedra en twee-duisend werksgeleenthede ondersteun. Cruise Cape Town het in Maart 22 skepe aangemeld, wat die meeste besoeke in ‘n enkele maand was. Ander hoogtepunte sluit in die eerste besoek van die Queen Anne van Cunard aan Suid-Afrika in April. Amptenare sê die plesierbootsektor is belangrik vir Kaapstad se toerisme- en werkskeppingsdoelwit.
# Die Stad Tshwane het weer sy toekennings vir uitnemende diens bekendstel om munisipale werkers te vereer vir die handhawing van openbare dienswaardes en die Batho Pele-beginsels. Raadslid Kholofelo Morodi sê die toekennings bevorder ‘n prestasiegedrewe kultuur en erken daaglikse toewyding en vernuwing. Die metro het ook 100 nuwe skoonmakers aangestel in ‘n poging om uitkontraktering te beëindig, billike indiensneming te verseker en algemene dienslewering te verbeter. Morodi sê Tshwane beweeg nader aan die erkenning van werkersregte en om langtermyn interne vermoëns te herbou.
# En ten slotte: Coca-Cola Beverages Suid-Afrika het in samewerking met die Stad Ekurhuleni 113 informele handelaars bemagtig deur middel van sy hernuwingsprogram vir township-ekonomieë. Handelaars het opleiding ontvang in kliëntediens, finansies en sakebestuur. Coca-Cola het 936-duisend-rand belê deur handelsmerktoerusting aan sekere handelaars te voorsien en hulle met verspreiders in aanraking gebring vir ondersteuning. Michael Tsholo van die maatskappy sê hulle wil met dié veldtog plaaslike ekonomiese groei en volhoubaarheid bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….