Nuus 13:00
BULLETIN 8 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA steun onafhanklike ondersoek en leefstyl-oudits vir senior SAPD-amptenare
# Tennis: Wimbledon vra verskoning oor ‘n tegniese blaps
# En Kaapstad se uitstekende plesierboot-seisoen laat die stad se geldkoffers bult
# Die DA steun die oproep vir ‘n onafhanklike kommissie van ondersoek en leefstyloudits vir alle senior polisie-amptenare. Dit volg op verdoemende bewerings deur die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, teen onder andere die minister van polisie, Senzo Mchunu. Hy beskuldig Mchunu van politieke inmenging in die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde. Lisa Schickerling van die DA sê hulle kan nie toekyk hoe die uniform van wetstoepassing ‘n dekmantel vir korrupsie word nie:
Die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-vakbond sê intussen Mkhwanazi se aantygings hou ernstige gevolge in vir die integriteit van die strafregstelsel. Popcru vra kalmte en versoek dat die saak deur onafhanklike prosesse behartig moet word om verdere skade aan openbare vertroue te verhoed. Richard Mamabolo van Popcru sê politieke inmenging moet vermy word, en beamptes moet op misdaadbestryding fokus en die oppergesag van die wet handhaaf:
# Eskom sê hy gaan voort om onwettige verbindings te verwyder as deel van sy pogings om infrastruktuur te beskerm en betroubare elektrisiteitstoevoer te voorsien. Die kragverskaffer se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê in sekere gebiede sien hulle ‘n toename in transformators wat veral saans weens oorlading uitskakel. Sy sê dis hoofsaaklik weens meters wat omseil word en onwettige verbindings, veral in gemeenskappe met woonplekke in agterplase of waar wooneiendomme in klein sake-ondernemings omskep is:
# Tennis: Wimbledon is gedwing om verskoning te vra oor ’n omstrede voorval op die hoofbaan tydens die eerste toernooi sonder lynregters. Die elektroniese lynfoutstelsel het blykbaar onklaar geraak gedurende die ronde van 16-wedstryd tussen Anastasia Pavlyuchenkova van Rusland en die plaaslike speler Sonay Kartal. Die Duitse skeidsregter Nico Helwerth is gekritiseer omdat hy nie ‘n regstelling gemaak het nadat die bal buite die lyn geland maar nie uitgeroep is nie . Die Rus het in skoon stelle gewen. Helwerth is nie gister aangestel om ’n wedstryd te hanteer nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-352-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: Drie-en-tagtig plesierbote het in die 2024/25-seisoen in Kaapstad vasgemeer. Elf skepe het die Moederstad die eerste keer besoek en die aantal passasiers en bemanningslede het met 16-persent toegeneem. Die seisoen het 1,32-miljard-rand tot die plaaslike ekonomie bygedra en twee-duisend werksgeleenthede ondersteun. Cruise Cape Town het in Maart 22 skepe aangemeld, wat die meeste besoeke in ʼn enkele maand was. Ander hoogtepunte sluit in die eerste besoek van die Queen Anne van Cunard aan Suid-Afrika in April. Amptenare sê die plesierbootsektor is belangrik vir Kaapstad se toerisme- en werkskeppingsdoelwit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….