Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus sal na verwagting verskeie veranderings aanbring aan die span vir Saterdag se tweede toets teen Italië in Gqeberha. Dit volg nadat die Bokke nie heeltemal oortuig het op Loftus nie. Suid-Afrika het ses drieë gedruk teenoor die besoekers se drie vir ‘n oorwinning van 42-24, maar daar is verwag hulle sou baie beter vaar na ‘n rustyd-voorsprong van 28-3. Erasmus sê hy wil soveel as moontlik spelers speelkans gee om diepte te versterk, en verwag die Bokke moet hierdie keer indrukwekkender vertoon.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Banyana Banyana, het die Afrikabeker-vrouetoernooi op ‘n goeie noot afgeskop met ʼn oorwinning van 2-0 oor Ghana in Marokko. Linda Motlhalo het met ʼn strafskop geslaag voordat Jermaine Seoposenwe die tweede doel in die eerste helfte bygevoeg het. Die Suid-Afrikaners begin dus die toernooi met die maksimum punte. Banyana Banyana kom Vrydag in Groep C teen Tanzanië te staan. Afrigter Desiree Ellis sê sy is tevrede:
# Krieket: Zimbabwe het sy opvolgbeurt op 51 vir een hervat op die derde dag van die tweede toets teen Suid-Afrika in Bulawayo – ‘n agterstand van 405 lopies. Die Proteas het hul eerste beurt op 626 vir vyf verklaar, met waarnemende kaptein Wiaan Mulder onoorwonne op 367 van 334 balle. Die gashere is toe in hulle eerste beurt vir 170 uitgehaal, met die nuweling Prenelan Subrayen wat vier paaltjies geneem het.
# Motorsport: Suid-Afrika se Formule Een-reëlingskomitee het die keuse van ‘n moontlike promotor afgehandel terwyl die land sy bod voorberei vir sy eerste Grand Prix sedert 1993. Die komitee sê die keuse is gemaak na ‘n gestruktureerde en regverdige veelfasige proses. Een van die vereistes vir suksesvolle registrasie was ‘n volledig-terugbetaalbare deposito van tien-miljoen-rand. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die aangewese promotor kan nie bekend gemaak word nie, aangesien verskeie prosesse en verpligtinge nog nagekom moet word.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, is deur na die kwarteindronde van Wimbledon nadat die Bulgaar, Grigor Dimitrov, weens ʼn besering moes onttrek nadat hy die eerste twee stelle gewen het. Die Serwiër, Novak Djokovic, het die Australiër, Alex de Minaur, naelskraaps geklop om sy 16de kwarteindronde te bereik. Die Amerikaner Ben Shelton en Flavio Cobolli van Italië is ook deur na die laaste agt. Sinner sê dis jammer die wedstryd het so sleg geëindig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….