Nuus 09:00
BULLETIN 7 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê BRICS-nasies sal nie deur Trump se dreigemente afgeskrik word nie
# Die EFF verwelkom ‘n vonnis van 25 jaar vir die moordenaar van ‘n ANC-jeugleier
# En die Amerikaanse Departement van Justisie en FBI sê Epstein het nooit ‘n geheime klantelys gehad nie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê ten spyte van president Donald Trump se dreigemente, sal BRICS-lande nie afgeskrik word nie en die resolusies instel waarop hulle by die beraad in Brasilië besluit het. Trump sê lande wat hulle vereenselwig met die teen-Amerika-beleide van die BRICS-groep, sal ‘n bykomende tarief van 10-persent betaal vir handel met Amerika. Lamola het aan die SABC gesê die Globale Suide moet ontwikkel en sal op sy eie staan:
# Die EFF het die vonnisoplegging verwelkom van die moordenaar van ‘n gewese sekretaris-generaal van ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa, in 2017. Die Pietermaritzburg-landdroshof het Sibusiso Ncengwa Maandag tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Magaqa is in Umzimkhulu in KwaZulu-Natal doodgeskiet. Twee raadslede wat by hom was, het oorleef. Drie beskuldigdes wat saam met Ncengwa aangekla is, is steeds in aanhouding, van wie een geestelik ongeskik verklaar is vir verhoor. Die EFF sê die politieke moord op Magaqa was die vergestalting van ‘n misdadige kultuur.
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, het die toekenning van 139-miljoen-rand vir rampverligting aan die provinsie se munisipaliteite verwelkom. Dis deel van die nasionale departement se rampverligtingstoelaag. Die LUR se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê die fondse sal munisipaliteite laat herlewe en in ʼn volhoubare herstelproses ondersteun:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie en die FBI sê hulle kon geen bewyse vind dat die finansier en seksoortreder, Jeffrey Epstein, ʼn lys met hoëprofielklante gehad het nie. Die departement sê hulle kon ook geen bewyse vind dat Epstein vermoor is nie, maar dat hy wel in 2019 in ʼn New Yorkse tronk selfdood gepleeg het. Daar is geen verdere aanklagte in die ondersoek na Epstein nie omdat hulle geen bewyse kon vind wat ʼn ondersoek teen derde partye regverdig nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner van Italië is deur na die kwarteindronde by Wimbledon nadat die Bulgaar, Grigor Dimitrov, weens ʼn besering moes onttrek terwyl hy met 6-3, 7-5, 2-2 voorgeloop het. Die Serwiër, Novak Djokovic, het die Australiër, Alex de Minaur, naelskraaps geklop om sy 16de Wimbledon-kwarteindronde te bereik. Die Amerikaner Ben Shelton en Flavio Cobolli van Italië is ook deur na die laaste agt. Sinner sê dis jammer die wedstryd het sleg geëindig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79 sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-25 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-811-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-62 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….