Nuus 08:00
BULLETIN 8 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC ondersteun leuens in die Parlement om kaderontplooiing te beskerm
# Minister Godongwana gaan vandag die Nasionale Tesourie-begroting ter afel lê
# En die dodetal in die vloedgeteisterde Texas styg tot meer as 100
# Die DA sê die ANC verdedig die onverdedigbare deur volledige en onvoorwaardelike steun te gee aan Minister Nobuhle Nkabane van Hoër Onderwys en Opleiding, wat krimineel ondersoek word. Die DA beskuldig Nkabane dat sy die Parlement bedrieg het om kaderontplooiing te verdoesel. Karabo Khakhau van die party waarsku dat sulke ondersteuning aanspreeklikheid ondermyn en demonstreer ’n ontstellende neiging om ministers wat van oortredings beskuldig word, te beskerm:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal vandag die Nasionale Tesourie se begrotingspos in die Parlement ter tafel lê. Dit kom weke nadat die derde nasionale begroting in die Nasionale Vergadering aanvaar is ná die goedkeuring van die fiskale raamwerk. Die Tesourie sê die begroting sal onder meer die departement se prestasies, vordering en jaarlikse dienslewering uiteensit wat die jaarlikse prestasieplan vir die komende jaar weerspieël.
# Die Vryheidsfront Plus in Ekurhuleni sê hy het gehelp om 14 Ethiopiese mans te red wat in ‘n huis in Birchleigh-Noord gevange gehou is. Dit volg nadat die party se raadslid in Kemptonpark, Jean Kriek, in kennis gestel is van mense in die huis wat om hulp roep. Hy het gaan ondersoek instel en die mans gevind wat met pangas en messe aangerand is. Die VF Plus sê volgens ʼn voorlopige ondersoek is die mans onder valse voorwendsels uit Ethiopië na Suid-Afrika gelok en in die huis gevange gehou.
# Die dodetal na die verwoestende oorstromings wat sentraal-Texas getref het, het tot minstens 104 gestyg. In die Kerr-distrik is minstens 84 liggame gevind wat 56 volwassenes en 28 kinders insluit. Camp Mystic, ʼn somerkamp vir meisies, het bevestig 27 meisies en beraders het die naweek in die oorstromings gesterf. Tien jong meisies en een berader word nog vermis. Texas-senator Ted Cruz sê onlangse regeringsbesnoeiings aan die Federale Noodbestuursagentskap en Nasionale Weerdiens het nie enige vloedwaarskuwings vertraag nie.
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Banyana Banyana, het die Afrikabeker-vrouetoernooi op ʼn goeie noot afgeskop met ʼn 2-0-oorwinning oor Ghana in Marokko. Linda Motlhalo het met ʼn strafskop geslaag voordat Jermaine Seoposenwe die tweede doel in die eerste helfte bygevoeg het. Die Suid-Afrikaners begin dus die toernooi met die maksimum punte. Banyana Banyana kom Vrydag in Groep C teen Tanzanië te staan. Afrigter Desiree Ellis sê sy is tevrede:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81 sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-27 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-803-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-41 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….