Nuus 07:00
BULLETIN 8 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa herbevestig hy sal aandag gee aan die KwaZulu-Natalse bewerings
# Ian Cameron dring aan op skorsings indien politieke inmenging in die polisie bevestig word
# En rugby: ‘n Aantal veranderinge word verwag in die Bok-groep vir die tweede toets teen Italië
# President Cyril Ramaphosa waarsku dat diegene in die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat aan misdade skuldig bevind word, gestraf sal word. KwaZulu-Natal se Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi beweer misdaadsindikate het die polisiediens binnegedring. Hy beskuldig die minister van Polisie dat hy by hoëprofielsake inmeng. Ramaphosa het gister ná die BRICS-beraad in Brasilië aan die media gesê hy is onkant betrap deur Mkhwanazi se bewerings:
Die voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, sê intussen ingewortelde korrupsie verlam die SAPD en die regstelsel. Cameron vra vir ‘n onafhanklike ondersoek, ‘n parlementêre debat en dat dossiere van politieke moorde bevries word. Hy beklemtoon indien ‘n voorlopige ondersoek enige mate van politieke inmenging in die ministerie aandui, skorsings oorweeg moet word:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê munisipaliteite wat voorheen rampverligtingfondse ontvang het, moet omvattende verslae indien met besonderhede oor hoe die fondse gebruik is. Die regering het ‘n ramphersteltoelaag aangekondig en 1,2-miljard-rand toegeken aan munisipaliteite in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Oos-Kaap wat onlangs deur rampe getref is. Hlabisa sê deursigtigheid, strategiese beplanning en finansiële aanspreeklikheid is noodsaaklik.
# Die sekretaris-general van die ANC, Fikile Mbalula sê sekere joernaliste het hulle rol as onafhanklike verslaggewers prysgegee om na bewering politieke agendas te bevorder. Terwyl die party mediavryheid verdedig, mag dit nie met straffeloosheid verwar word nie. Mbalula beweer hierdie soort gekaapte joernalistiek ondermyn die publiek se vertrou en die waarde van mediavryheid, en op die lang duur word demokrasie benadeel. Hy het ‘n beroep gedoen op die media om etiek, balans en verantwoordbaarheid te respekteer:
# President Donald Trump van Amerika sê Japan en Suid-Korea sal van 1 Augustus af ʼn tarief van 25-persent betaal op uitvoere na Amerika. Hy het die tariewe in ʼn inskrywing op sy Truth Social aangekondig en briewe gedeel wat hy aan die twee lande se leiers gestuur het. Japan en Suid-Korea is onderskeidelik Amerika se sesde en sewende grootste handelsvennote. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê briewe sal in die komende dae aan meer lande gestuur word:
# Rugby: Die Springbokafrigter Rassie Erasmus sal na verwagting verskeie veranderings aanbring aan die span vir die tweede toets Saterdag teen Italië in Gqeberha. Dit volg na ‘n minder-oortuigende Springbok-vertoning verlede week op Loftus. Suid-Afrika het ses drieë gedruk teenoor drie deur die besoekers vir ‘n oorwinning van 42-24, maar die verwagting was dat die Bokke na hul rustydtelling van 28-3 in die tweede helfte beter sou vaar. Erasmus sê hy wil soveel as moontlik spelers ‘n kans op die veld gee om die krag van die groep te versterk. Hy sê die Bokke moet hierdie keer meer indrukwekkend speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-811-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….