Nuus 15:00
BULLETIN 7 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA waarsku teen die viktimisering van eerlike polisieleiers
# Landboukenners prys Suid-Afrika se wynoes met uitvoere wat styg
# En krieket: Wiaan Mulder maak geskiedenis in die tweede toets teen Zimbabwe
# ActionSA het sy steun aan die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi herbevestig, ná sy uitlatings oor politieke inmenging by polisie-ondersoeke. Die party sê Mkhwanazi het ‘n goeie agtergrond en behoort nie geviktimiseer te word omdat hy teen senior politieke persone uitpraat nie. Michael Beaumont van ActionSA waarsku eerlike polisieleiers word geteiken om hulle stil te maak terwyl hulle net hulle werk doen. Hy meen dit bedreig die integriteit van die strafregstelsel:
Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het Sibusiso Ncengwa intussen tot 25-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa, in 2017. Die 37-jarige het skuld erken vir die moord en poging tot moord op drie ander, en beweer die ontslape burgemeester van uMzimkhulu, Mluleki Ndobe, was die baasbrein. Twee medebeskuldigdes wag op hul verhoor terwyl ‘n vierde in psigiatriese sorg is. Natasha Ramkisson-Kara van die NVG verwelkom die vonnis en noem dit geregtigheid vir politieke moorde:
# Landboukenners het Suid-Afrtika se 2025 wynoes as een van die beste in dekades beskryf, met volumes wat met 11-persent tot 1,2-miljoen ton gestyg het. Die bedryfsorganisasie South African Wine sê uitvoere word versterk deur ideale weer en ‘n verskuiwing na premiumwyne, en bedien nou meer as 120 markte vanaf net 60 in 2019. Uitvoerders teiken Asië, maar China se heffing van 14-persent bly ‘n struikelblok. Die landbou-ekonoom, Wandile Sihlobo, sê die 2025-oes dui op ‘n herlewing in die landbou. Hy vra breër marktoegang, voortdurende belegging en klimaatbewuste-landbou.
# Krieket: Die waarnemende kaptein, Wiaan Mulder, het die beste toetstelling vir ‘n Suid-Afrikaner oortref op die tweede oggend van die tweede toets teen Zimbabwe in Bulawayo. Hy het die rekord van ‘n onoorwonne 311 verbeter wat Hashim Amla in 2012 op die Oval teen Engeland aangeteken het. Hulle is die enigste Protea-kolwers wat nog ‘n driedubbele honderdtal kon bereik. Mulder is ook die eerste speler om ‘n 300-tal aan te teken in sy buiging as toetskaptein. Hy het na middagete verklaar op 626 vir vyf, en onoorwonne op 367.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-648-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-23-sent per vat.
# En laastens, die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging sê hulle verskerp pogings om kwesbare diere teen uiterste weersomstandighede te beskerm. Die organisasie het baie troeteldiere gevind wat vasgeketting was in die onlangse koue en nat weersomstandighede. ‘n DBV-woordvoerder Belinda Abraham sê die organisasie se voorste linie-vrywilligers werk saam met die stad se noodspanne en red elke dag diere. Sy vra eienaars om hul troeteldiere veilig te hou, en die plaaslike gemeenskap om komberse, handdoeke en kos vir troeteldiere te skenk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….