Nuus 13:00
BULLETIN 7 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê Mkhwanazi moet as fluitjieblaser beskerm word
# Eenheid 4 van Medupi-kragstasie voor skedule aan netwerk gekoppel
# En sokker: Banyana Banyana is gereed vir vanaand se wedstryd teen Ghana in Marokko
# Die GOOD-party sê die skokkende bewerings wat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, gemaak het, vereis ‘n onmiddellike en onafhanklike ondersoek deur senior amptenare binne die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag. Mkhwanazi het bewerings gemaak van politieke inmenging in hoëprofielsake, en korrupsie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die kommissaris moet as ‘n fluitjieblaser beskerm word:
RISE Mzansi is intussen diep bekommerd oor Mkhwanazi se bewerings. Woordvoerder Makashule Gana sê president Cyril Ramaphosa en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, moet die nasie inlig oor hul kennis van die bewerings en die stappe wat gedoen sal word:
# Eskom sê Eenheid 4 van die Medupi-kragstasie in Limpopo is agt maande voor skedule weer aan die kragnetwerk gekoppel. Die eenheid was sedert 8 Augustus 2021 buite werking ná aansienlike skade aangerig is deur ‘n ontploffing. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die eenheid dra 800 megawatt by tot die kragnetwerk, as deel van sy strategiese doelwit om twee-duisend-500 megawatt by die netwerk te voeg
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle is slaggereed om vanaand hulle Afrikabekertitel vir Vroue te begin verdedig teen Ghana in Marokko. Suid-Afrika, wat tweede op Afrika se ranglys is, speel in Groep C ook teen Mali en Tanzanië. Die Ghanese is terug in die kompetisie na ‘n afwesigheid van sewe jaar. Ellis sê dis ‘n taai groep, maar sy het volle vertoue in haar spelers:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-845-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-308-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-2-sent per vat.
# En laastens, een van Afrika se ontwykendste en mees bedreigde voëlsoorte, die witvlerk-vleikuiken, is van die lys mees bedreigte spesies in Suid-Afrika gehaal. Dit volg na aansienlike vordering om die biologie, broeigewoontes en habitatvoorkeure van hierdie geheimsinnige voël te verstaan. BirdLife South Africa se uitvoerende hoof, Mark Anderson, sê Ethiopië het net genoeg habitat om 55 broeipare te huisves en daarom speel Suid-Afrika ‘n belangrike rol om die witvlerk-vleikuiken se uitsterwing te keer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….