Nuus 08:00
BULLETIN 7 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC is bekommerd oor die bewerings deur kommissaris Mkhwanazi
# Die DA wil ‘n dringende debat in die Parlement hê oor korrupsie in die polisie
# En Donald Trump sê Elon Musk se besluit om ‘n nuwe politieke party te stig, is belaglik
# Die ANC sê hy neem met kommer kennis van bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy het Sondag tydens ‘n mediakonferensie die minister van Polisie, Senzo Mchunu, parlementslede, die regbank en sommige SAPD-lede van korrupsie en politieke inmenging beskuldig. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê hierdie sake raak die kern van openbare vertroue in die oppergesag van die reg en integriteit van die land se instellings:
Die DA het intussen aan die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, geskryf en ʼn dringende debat in die Parlement aangevra oor korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit volg ná die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se verdoemende bewerings teen senior amptenare wat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, insluit. Ian Cameron van die DA sê die land sal nooit teen geweldsmisdaad wen nie tensy die SAPD ernstige integriteitsbestuur binne en buite toepas:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het sy woede uitgespreek oor wat hy noem verkeerde bewerings in ʼn Sunday World-koerantartikel oor sy besluit om aan volgende jaar se plaaslike verkiesing deel te neem. Volgens die artikel is daar tweespalt in die party oor sy besluit om onafhanklik van die ANC deel te neem. Die SAKP sê die artikel bevat geen feitelike inligting nie en is blatante vals inligting. Hy sê die artikel stem ooreen met die mening van individue wat die party vyandiggesind is.
# Amerika se president Donald Trump het Elon Musk se besluit om ʼn nuwe politieke party te stig, gekritiseer en sê ʼn derde party sal nooit werk nie. Die miljardêr het op sy sosialemediaplatform X aangekondig hy het die Amerikaanse Party gestig en beskryf dit as ʼn uitdaging vir die tweepartystelsel van Republikeine en Demokrate. Trump sê derde partye is net goed om totale wanorde en chaos te skep:
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die Wimbledon-kwarteindronde. Die Spanjaard het na ʼn taai stryd met die Rus, Andrey Rublev, afgereken en kom nou teen die Brit, Cameron Norrie, te staan wat die Chileense kwalifiseerder, Nicolas Jarry, in vyf stelle verslaan het. Taylor Fritz van Amerika het die kwarteindronde gehaal nadat sy Australiese teenstander, Jordan Thompson, weens ʼn besering onttrek het nadat hy 6-1, 3-0 agter was. In die vroueafdeling het Aryna Sabalenka van Belarus die Belg, Elise Mertens, verslaan om na die kwarteindronde deur te dring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-485-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-313-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….