Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê Gordhan is die minister met die meeste onbeantwoorde vrae oor sy portefeulje
# Fase 1- en 2-beurtkrag is weer vanmiddag ingestel
# En, krieket: Graeme Smith verwag ‘n nog beter tweede seisoen vir die SA20
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, is uitgewys as die minister met die meeste onbeantwoorde vrae van parlementslede. Die Parlement het ‘n lys van ministers gepubliseer met onbeantwoorde vrae wat terugdateer tot Februarie verlede jaar. Gordhan is in die vegrootglas met 17 onbeantwoorde vrae in sy portefeulje, wat oorsig insluit oor staatsbeheerde ondernemings, soos Eskom. Ander op die lys sluit in die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, en die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Mondli Gungubele.
# Eskom het aangekondig fase 1- en 2-beurtkrag geld weer van vieruur vanmiddag tot verdere kennisgewing. Die kragvoorsiener noem terugslae in die terugkeer van twee opwekkingseenhede, tesame met die verlies van drie ander eenhede. Eskom stel die publiek gerus en sê sy kragstasiebestuurders en hul spanne werk hard om te verseker dat twee-duisend-700 megawatt se opwekkingsvermoë voor die einde van die week weer beskikbaar sal wees.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het tydens dringende gesprekke met Israelse leiers in Tel Aviv oproepe herhaal dat Israel die beskerming van burgerlikes in Gaza moet opskerp. Die beraadslaging het ten doel om die uitbreiding van die geweld na die streek te voorkom en die aflewering van noodsaaklike humanitêre hulp te vergemaklik. Dit volg op onlangse gebeure, insluitend die lugaanval in Suid-Libanon wat die lewe geëis het van die Hezbollah-aanvoerder, Wissam al-Tawil. Blinken steun die noodsaaklikheid van ʼn politieke padkaart vir die Palestyne:
# Krieket: Die tweede seisoen van die SA20 begin môre op St Georgepark in Gqeberha, met die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, wat gashere is vir die Joburg Super Kings. Al die Protea-sterre is beskikbaar vir die toernooi wat ten einde loop met die eindwedstryd op Nuweland in Kaapstad op die tiende Februarie. Die wenspan sal ʼn allemintige 34-miljoen-rand se prysgeld in hulle sakke kan steek. Die eerste seisoen was uiters suksesvol en die kommissaris van die SA20, die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith, sê die tweede seisoen kan selfs beter wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-850-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-99-sent per vat.
# Ten slotte: Time Square Casino in Menlyn, Pretoria, en Carnival City in Brakpan aan die Gautengse Oos-Rand vier tans hul groot oorwinnings op die derde Wêreld-casino-toekennings 2023. Die Maslow Time Square Hotel het die eer verseker as Suid-Afrika se Beste Casino Hotel 2023 sowel as Afrika se Beste Casino Hotel 2023. Die Time Square SunBet Arena is erken as Afrika se Beste Casino Vermaaklikheids-instelling. Carnival City Casino het ook top-toekennings ingepalm, en is aangewys as beide Suid-Afrika se Beste Casino 2023 en Afrika se Beste Casino 2023.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….