Nuus 18:00
BULLETIN 4 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisie-minister dien R121-miljard begroting in om geweldsmisdade en korrupsie te beveg
# AfriForum stel ‘n noodfonds beskikbaar om brandbestryders te ondersteun
# En, die Hooggeregshof sal die moordsaak van die joernalis Ndlovu en sy lewensmaat aanhoor
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê om ‘n veiliger Suid-Afrika te skep, vereis dringende optrede, innovering en vennootskappe. Mchunu het sy begroting by die Parlement ingedien en 121-miljard-rand is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir 2025/2026 toegewys. Kernprioriteite sluit in die vermindering van moorde, geslagsgeweld en onwettige vuurwapens. Hy het ook bykomende befondsing vir bendegeweld-brandpunte, gemeenskapspolisiëringsforums en tegnologie-opgraderings, insluitend hommeltuie en liggaamskameras aangekondig:
# AfriForum het sy noodfonds beskikbaar gestel om brandbestryders insluitend boere en vrywilligers wat veg teen veldbrande in die noordelike dele van die land, te ondersteun. Die organisasie het 300 noodpakkies voorberei wat brandbehandeling, hidrasiehulpmiddels en beskermende items bevat. Tarien Cooks van AfriForum sê die fonds sal onmiddellike verligting bied aangesien regeringsondersteuning dikwels vertraag word:
# Die moordsaak van joernalis Sibusiso Aseri Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli is na die Hooggeregshof oorgeplaas. Dit is tydens die verskyning van die vyf beskuldigdes in die KwaMhlanga-landdroshof in Mpumalanga bevestig. Hulle bly almal in aanhouding. Die paartjie is sedert 18 Februarie vermis en hulle oorblyfsels is in Mei gevind nadat ‘n verdagte die plek uitgewys het. Die paartjie is sederdien begrawe. Die saak is tot 8 Augustus vir bykomende verklarings en die voorbereiding van bewyse uitgestel.
# FlyDubai het die eerste internasionale lugredery geword om by die Imam Khomeini-lughawe in Teheran te land nadat vlugte vir 20-dae opgeskort is weens Israelse aanvalle op Iran. Vlug FZ1930 vanaf die Verenigde Arabiese Emirate dui op die geleidelike heropening van die Iranse lugruim. FlyDubai, Emirates se laekoste-susterlugredery het sy dienste hervat met streng veiligheidsprotokolle. Owerhede het die landing beskou as ‘n teken van herstelde bestendigheid en goeie krisisreaksie. Die meeste lughawens is weer oopgestel, maar Isfahan en Tabriz bly gesluit.
# Rugby: Argentinië het ses veranderinge aangebring aan hulle opdraf vyftiental vir Engeland se besoek aan La Plata-stadion vir die eerste van twee toetse môre. Die afrigter Felipe Contepomi het drie verandering aan die pak voorspelers aangebring en drie in die agterlyn. Santiago Carreras skuif van heelagter na losskakel in die hersaamgestelde agterlyn. Gonzalo Bertranou is terug op skrumskakel as skakelmaat vir Carreras, terwyl vleuel Santiago Cordero en debutant heelagter Benjamin Elizalde in die span inkom om saam met Rodrigo Isgro die agterlyn te vorm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-752-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….