Nuus 15:00
BULLETIN 4 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Oostenryk se Afrika-strategie skakel in met Suid-Afrika se groei en hervormingsagenda
# COSATU kritiseer Kaapstad oor gebrek aan transformasie van uitvoerende leierskap
# En, RISE Mzansi versoek die Ministerie van Polisie om forensiese laboratoriums reg te ruk
# President Cyril Ramaphosa sê Oostenryk se Afrika-strategie skakel goed in by Suid-Afrika se agenda vir ekonomiese groei en strukturele hervorming. Met die verwelkoming van die Oostenrykse president, Alexander van der Bellen by die Uniegebou in Pretoria, het Ramaphosa gesê die twee lande het gemeenskaplike doelwitte in terme van infrastruktuur, energie, digitalisering, en klimaatsveerkragtigheid. Hy voeg by dat Suid-Afrika steeds Oostenryk se grootste handelsvennoot in Afrika bly, met meer as 70 Oostenrykse maatskappye wat plaaslik bedryf word:
# COSATU in die Wes-Kaap veroordeel die Stad Kaapstad se mislukking om sy uitvoerende leierskap te transformeer en sê wit manlike oorheersing word steeds gehandhaaf en swart beroepslui word uitgesluit. Die vakbond is van mening die stad se praktyke skend die Wet op Gelyke Indiensneming en versterk voorregte uit die apartheidsera. Die woordvoerder, Zanele Sabela, eis ‘n dringende oudit, korrektiewe stappe en ingryping van die Menseregtekommissie om die Stad aanspreeklik te hou:
# RISE Mzansi doen ‘n beroep op die Ministerie van Polisie om forensiese laboratoriums reg te ruk om die agterstand te verminder. Die party sê DNS-vertragings beteken moordenaars in die land is op vrye voet. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê die opsporingskoers vir moorde staan op 10-persent, wat beteken 90-persent van die moordenaars kom daarmee weg. Hy het tydens ‘n debat oor die polisie se begroting gesê speurders los nie sake op nie, maar nie omdat hulle nie omgee nie, maar omdat die stelsel stukkend is:
# Hamas sê hy beraadslaag ander Palestynse bewegings oor ‘n voorstel vir ‘n skietstilstand in die oorlog met Israel. Dit is moontlik ‘n teken dat hulle voorberei vir onderhandelings oor ‘n wapenstilstand in Gaza. Die verklaring volg voor die besoek van die Israeliese premier Benjamin Netanyahu Maandag aan Washington, met president Donald Trump wat druk uitoefen vir ‘n einde aan die oorlog. Die konflik in Gaza het begin met Hamas se ongekende aanval op Israel in 2023, wat ‘n massiewe Israeliese offensief ontketen het om Hamas te vernietig.
# Sokker: SuperSport United het bevestig dat hulle Premierskap-status aan Siwelele Football Club verkoop is, wat ‘n 31-jarige verbintenis met MultiChoice beëindig. Die transaksie, afhangende van die goedkeuring deur die Premier-sokkerliga, word gesien as deel van MultiChoice se strategie om op sport uitsending te fokus te midde van ‘n 2,3-miljard-rand verlies en 1,2-miljoen kansellasies van DStv-intekenaars. Die uitvoerende hoof van SuperSport, Rendani Ramovha sê die skuif ondersteun innovering. Die voorsitter van Siwelele, Calvin le John, sê intussen hulle beplan om SuperSport se nalatenskap wat oor 30 jaar opgebou is, te vereer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-056-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….