Goeie Nuus
BULLETIN 4 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Do More-stigting het hulle Mandeladag-veldtog bekend gestel en vra Suid-Afrikaners om te help om klimaatsweerstandige vroeë onderwys-ontwikkelingsentrums in arm gemeenskappe op te rig. Jessica Ronaasen van die stigting sê vanjaar se veldtog gaan oor die idee dat ‘n beter klimaat-toekoms begin by kinders wat speel. Sy sê jong kinders is veral kwesbaar vir die uitwerking van klimaatsverandering wat toeneem :
# Die Johannesburg Erfenisstigting het die kulturele, argitektoniese en akademiese belang van die nuutherstelde Universiteit van die Witwatersrand se Anglo American Digitale Koepel gehuldig met die onthulling van ‘n geskiedkundige Blou Gedenkplaat. Hiermee word erkenning gegee aan 60 jaar van die Wits Planetarium se bydrae tot opvoeding, wetenskap en gemeenskapslewe. Die universiteit sê die derde fase in die ontwikkeling sal binnekort begin met die byvoeging an geriewe vir inhoudsontwikkeling en ‘n permanente uitstalling wat die geskiedkundige Zeiss-projektor sal huisves.
# Funda Nenja vier 16 jaar van bemagtiging van kinders terwyl hulle opvoedkundige honde-opleiding in townships in Mpophomeni, KwaZulu-Natal, bevorder. Die diere-welsynsorganisasie, wat in 2009 as honde-opleidingsklasse gedurende skoolvakansies begin het, het ontwikkel tot ‘n internasionaal-erkende organisasie. Mede-stigter, Heather Somerville, sê hulle funksioneer nou as ‘n organisasie sonder winsbejag wat diereversorging, goedhartigheid en gemeenskapsbou bevorder. Sy sê die groep gaan voort om die lewens van mense én honde te verbeter.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, SuperSport en die SABC het ʼn ooreenkoms tussen die twee mediahuise aangekondig dat die SABC die komende tweede toets tussen Suid-Afrika en Italië sal uitsaai. Die ooreenkoms gee erkenning aan die wedstryd se geskiedkundige aard. Dit is die 30ste herdenking van die Springbokke se oorwinning in die 1995-Rugbywêreldbeker en is deel van SARU se viering om hierdie geskiedkundige gebeurtenis te gedenk. Die wedstryd op 12 Julie sal regstreeks uitgesaai word op SABC 2, SABC-radiostasies en SuperSport.
# En ten slotte: Leah van Deventer van Suid-Afrika het weereens ‘n plek losgeslaan op die gesogde Bar World 100 lys wat deur Drinks International saamgestel word. Van Deventer, vanjaar 50ste op die lys, word erken vir haar invloedryke rol in opleiding, skryf, en mentorskap binne die wêreldwye kroegnywerheid. Sy word geloof vir haar bevordering van inklusiwiteit, etiek, billikheid en volhoubaarheid, met werk wat Afrika en die wêreld raak. Sy het ook die Sisterhood for Industry Support gestig en is as Mentor van die Jaar in Suid-Afrika aangewys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….