Eko-minuut 13:30
BULLETIN 4 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Do More-stigting het hulle Mandeladag-veldtog bekend gestel en vra Suid-Afrikaners om te help om klimaatsweerstandige vroeë onderwys-ontwikkelingsentrums in arm gemeenskappe op te rig. Jessica Ronaasen van die stigting sê vanjaar se veldtog gaan oor die idee dat ‘n beter klimaat-toekoms begin by kinders wat speel. Sy sê met klimaatsverandering wat toeneem, is jong kinders veral kwesbaar vir die uitwerking daarvan:
#Meer as 230 brandweerbeamptes, 46 voertuie en 10 helikopters sukkel om die veldbrand op Griekeland se grootste eiland Kreta onder beheer te bring en die owerheid het massa-ontruiming afgekondig. Die brand het naby Ierapetra, ‘n dorp aan die eiland se suidkus uitgebreek te midde van temperature van 3 tot 5 grade Celsius bo die normale en ‘n stormsterk wind van sowat 80 kilometer per uur. Die brand het vinnig versprei en huise, hotelle en ander toeriste-verblyfplekke bereik. Veldbrande het vandeesweek ook deur ander Europese lande gewoed waar ‘n ongenadige hittegolf ondervind word.
# En SANParke sê die gebruik van hommeltuie in die Krugerwildtuin in Mpumalanga en Limpopo is streng verbode ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede. SANParke waarsku die ongemagtigde gebruik van hommeltuie kan die wild steur en die ervaring vir ander besoekers bederf. Enigiemand wat sonder toestemming ‘n hommeltuig die lug instuur, sal in hegtenis geneem en daar sal beslag gelê word op die toerusting. SANParke versoek die publiek om onwettige hommeltuigbedrywighede op sy noodnommers aan te meld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….