Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Banyana Banyana se hoofafrigter, Desiree Ellis, glo hulle is reg om Maandag teen Ghana te begin met die verdediging van hulle titel op die Afrikabekertoernooi vir vroue in Marokko. Suid-Afrika kom in Groep C ook teen Mali en Tanzanië te staan. Ellis sê dis baie moeilik om ‘n titel te verdedig, maar hulle weet dis moontlik. Sy glo dis belangrik dat elke speler haar kant moet bring soos in 2022. Ellis sê hulle het die ontwikkeling van belangrike teenstanders bestudeer, en maak staat op taktiese diepte en spangees.
# Rugby: Die Junior Springbokke se hoofafrigter, Kevin Foote, het geringe veranderings aan sy span aangebring vir môre se Wêreld-Rugby-Onder-20-kampioenskaps-kragmeting met Engeland in Rovigo, Italië. Hy het vetroue getoon in die spelers wat Australië in hulle eerste wedstryd 73-17 oorrompel het. Foote het die senter Gino Cupido in die beginspan ingesluit in die plek van Demitre Erasmus, wat siek is, en Erich Visser en Ian van der Merwe op die bank vervang met Ceano Everson en Dominic Malgas. Afskop is sesuur.
# Kanovaart: Hank McGregor het sy staal gewys op die eerste dag van die Bergrivier-marathon met ʼn reuse-voorsprong van byna ses minute op Robert Herreveld. Die 47-jarige wêreldkampioen is reeds ʼn gunsteling om sy 14de titel op te raap. In die vroueafdeling was Nix Birkett en Jenna Nisbet kop aan kop in die skof van 62 kilometer tussen die Paarl en Zonquasdrift. Vandag roei deelnemers van Gouda na Bridgetown ná ʼn besluit om die deel tussen Zonquasdrift en Gouda uit te sny weens gevaarlike toestande.
# Tennis: Die Rus Andrey Rublev het sy loopbaanrekord oor die Suid-Afrikaner Lloyd Harris tot 4-0 verbeter toe hy hom geklop het in die tweede ronde van Wimbledon. Rublev het Harris in vier stelle verslaan om na die derde ronde deur te dring. Harris het die eerste stel 6-7 gewen, maar Rublev het teruggeveg en geseëvier. Harris het die Belg, Zizou Bergs, in die eerste ronde verslaan. Die 28-jarige Suid-Afrikaner het in Oktober verlede jaar ʼn groot rugoperasie ondergaan.
Verlede jaar se naaswenner, Jasmine Paolini, is intussen die jongste ster wat op Wimbledon uitgeskakel is. Nege van die tien topgekeurde mans- en vrouespelers is binne die eerste twee dae uitgeskakel. Die tweede-gekeurde Coco Gauff, die derde-gekeurde Jessica Pegula en die vyfde-gekeurde Zheng Qinwen het almal in die eerste ronde verloor, en die vierde-gekeurde Paolini in die tweede ronde. In die mansafdeling is 13 gekeurde spelers reeds uitgeskakel. Die 12de-gekeurde Amerikaner, Frances Tiafoe, is die jongste slagoffer nadat hy teen die wêreld-nommer-61, Cameron Norrie, verloor het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….