Nuus 12:00
BULLETIN 3 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Minerale Raad kritiseer die kabinet oor ‘n gebrek aan raadpleging oor ingrypings in die chroombedryf
# Kaapstad se rampbestuursentrum bly op hoë gereedheid voor die volgende kouefront
# En tennis: Paolini word die jongste ongeval op Wimbledon
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika is bekommerd oor regeringsplanne om in te gryp in die chroom- en ferrochroombedryf. Hy waarsku voorgestelde maatreëls soos uitvoerbelasting kan die mynbousektor benadeel, werksgeleenthede bedreig en ekonomiese groei belemmer. Die raad vra dringende gesprekke om te verseker waarde-toegevoegde ver-edeling benadeel nie mynbou-volhoubaarheid nie. Die raadslid, Allan Seccombe, het die laer elektrisiteitsonkoste en belastingverligting vir plaaslike smelters verwelkom:
# Die Stad Kaapstad se Ramprisikobestuursentrum sal op ‘n hoë gereedheidsgrondslag bly vir ‘n erge kouefront wat môre oor die Wes-Kaap inbeweeg. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 4-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reënval dié naweek. Die sentrum se woordvoerder, Sonica Lategan, sê die stad het ook organisasies sonder winsbejag wat as sy vennote optree, in kennis gestel dat humanitêre hulp benodig gaan word:
# Minstens vier mense is dood en tientalle word vermis nadat ‘n veerboot naby die Indonesiese vakansie-eiland Bali gesink het. Die Nasionale Soek- en Reddingsagentskap sê die boot het 53 passasiers en 12 bemanningslede aan boord gehad toe dit onderweg van die eiland Java gesink het. Owerhede sê 29 oorlewendes is gered en die soektog duur voort. Die vaartuig het volgens berigte enjinprobleme ontwikkel kort voor dit gesink het. Ongelukke ter see vind gereeld in Indonesië plaas omdat veiligheidsmaatreëls nie toegepas word nie.
# Tennis: Verlede jaar se naaswenner, Jasmine Paolini, is die jongste ster wat op Wimbledon uitgeskakel is. Nege van die tien topgekeurde mans- en vrouespelers is binne die eerste twee dae uitgeskakel. Die tweede-gekeurde Coco Gauff, die derde-gekeurde Jessica Pegula en die vyfde-gekeurde Zheng Qinwen het almal in die eerste ronde verloor, en die vierde-gekeurde Paolini in die tweede ronde. In die mansafdeling is 13 gekeurde spelers reeds uitgeskakel. Die 12de-gekeurde Amerikaner, Frances Tiafoe, is die jongste slagoffer nadat hy teen die wêreld-nommer-61, Cameron Norrie, verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-567-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-15-sent per vat.
# En laastens, Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, het hulde gebring aan die stad se hoof van Korporatiewe en Forensiese Oudits, Mpho Mafole, wat Maandag in Kemptonpark doodgeskiet is. Xhakaza het Mafole beskryf as ‘n vreeslose kampvegter vir etiese regering. Hy sê die moord, te midde van ‘n rits aanvalle op teen-korrupsie-amptenare, is ‘n bedreiging vir die stad se hernuwingsagenda. Die burgemeester moedig die polisie en staatsekerheid aan om dringend op te tree en die vinnige inhegtenisname van die moordenaars te bewerkstellig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….