Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad sê die toerismesektor het die afgelope maande merkwaardig gegroei en dit die middelpunt gemaak van sake-inkomste en die skep van ‘n verskeidenheid werksgeleenthede. In die 2022/2023-seisoen het lugvaart 24-miljard-rand en sowat tien-duisend-600 werksgeleenthede na die Kaap gebring. Passasiersbote het tussen Oktober 2022 en Mei verlede jaar byna 190-duisend passasiers en bemanning verwelkom. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hulle is daartoe verbind om ʼn toerisme-verwante werk in elke huishouding in Kaapstad te skep:
# Die Stad Kaapstad sê met die skole wat volgende week heropen, maak baie inwoners en besoekers die beste van die goeie weer voordat kinders weer skool toe moet gaan. Die afgelope naweek het die Identikidz-projek, wat daarop gemik is om kinderveiligheid te bevorder, meer as 18-duisend-500 kinders uitgeken. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die projek, wat ten doel het om ‘n veiliger strandomgewing te skep, voorsien geregistreerde kinders van ‘n waterdigte armband met ‘n unieke nommer op:
# Die kommersiële eiendomsmark in KwaZulu-Natal herstel na ʼn uitdagende tydperk waarin dit net in 2022 met meer as 20-persent verswak het. FNB merk die groei ontstaan uit ʼn lae basis. Die bank se kenner van Eiendomsfinansiering, Malusi Mthuli, benadruk die duidelike en opwaartse neiging in die mark:
# Omgewingsbewaarders in die weste van Thailand vier die sukses van hul tierbewaringsprojek. Owerhede berig dat ‘n tierwyfie met twee welpies in die Salak Phra-wildbewaringsgebied opgemerk is nadat hulle die projek fyn gemonitor het. Die bewaringsbestuurder van die Panthera-organisasie se plaaslike tak, Rattapan Pattanarangsan, sê Thailand kan nou tiere teel. Hy sê die land se verbintenis tot bewaring werp nou vrugte af nadat tiergetalle oor die afgelope 12 jaar merkbaar toegeneem het.
# En ten slotte: Nkateko Emily Mabasa het die byna onmoontlike oorkom en baie mense in die Alexandra-township in Gauteng se bron van inspirasie geword. Die 33-jarige Mabasa wat serebraal gestrem is, het ʼn BA-graad in Mode-ontwerp behaal. Sy het ook die organisasie Phoenix Alexandra gestig wat ʼn reeks aktiwiteite vir kinders en jong volwassenes bied. Dit sluit danse, sang, toneel, spelkompetisies, lees, gedigte en skaakklubs in. Mabasa sê in weerwil van die uitdagings wat haar as gestremde daagliks in die gesig staar, wil sy ʼn betekenisvolle verskil in ander se lewens maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….