Nuus 14:00
BULLETIN 2 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy sê haar departement verwag om 42-miljoen passasiers deur ACSA se netwerk te hanteer
# Die onwettige alkoholmark kos Suid-Afrika 16,5-miljard-rand in verlore belastinginkomste
# En krieket: Wiaan Mulder gaan die Proteas aanvoer in die tweede toets teen Zimbabwe
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê haar departement verwag om 42-miljoen passasiers en 1,2-miljoen-ton lugvrag deur die netwerk lughawens van die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika te hanteer teen die einde van die huidige politieke termyn. Sy het haar begroting ingedien by die Parlement in Kaapstad en gesê hulle beplan om padsterftes teen 2029 met 45-persent te verminder om te belyn met die Verenigde Nasies se teiken om padsterftes teen 2030 te halfveer:
# Die onwettige alkoholmark in Suid-Afrika is nou 25,1-miljard-rand werd, wat die land 16,5-miljard-rand in verlore belastinginkomste kos. Sowat een uit elke vyf alkoholiese drankies wat verkoop word, is onwettig en word aangevoer deur namaaksels en swak wetstoepassing. Die Drankfederasie van Suid-Afrika waarsku dit kan die ekonomie, openbare gesondheid en wettige ondernemings ondermyn. Baie onwettige produkte bevat skadelike stowwe soos metanol. Die federasie het ‘n nasionale bewusmakingsveldtog van stapel gestuur om verbruikers te help om onwettige alkohol te identifiseer en die groeiende bedreiging daarvan te verminder.
# City Power het die instelling van nuwe laaistasies vir elektriese voertuie aangekondig, ‘n belangrike mylpaal in Johannesburg se oorgang na skoon energie. Deel van City Power se tien-punt-energieplan sluit in die omskakeling van sy vloot na elektriese voertuie, om stadswye laai-infrastruktuur op te rig asook die bekendstelling van battery-ruilstelsels. Die woordvoerder, Isaac Mangena, sê die stap sal uitstralings en brandstofkostes verminder en vaardigheidsontwikkeling bevorder, wat Johannesburg ‘n leier sal maak in groen beweeglikheid en ekonomiese vernuwing:
# President Masoud Pezeshkian van Iran het vandag ‘n wet bekragtig wat verlede maand deur die Parlement aangeneem is om samewerking met die Verenigde Nasies se kernwaghond op te skort. Iranse staatsmedia berig die wetsontwerp bepaal enige toekomstige inspeksie deur die Internasionale Atoomenergieagentskap moet eers deur die Opperste Nasionale Veiligheidsraad goedgekeur word. Die stap volg ná ‘n lugoorlog met Israel waarin hy gesê het hy wil Teheran verhoed om ‘n kernwapen te ontwikkel. Iran sê die agentskap het geweier om die aanval op sy kernaanlegte te veroordeel, wat sy geloofwaardigheid in twyfel trek.
# Krieket: Wiaan Mulder sal die Proteas aanvoer in die tweede toets teen Zimbabwe nadat Keshav Maharaj weens ‘n besering moes onttrek. Maharaj was die waarnemende kaptein in die afwesigheid van die beseerde Temba Bavuma, maar het Maandag ‘n liesbesering opgedoen terwyl hy gekolf het in die eerste toets in Bulawayo. Hy sal na Suid-Afrika terugkeer vir verdere ondersoeke en Senuram Muthusamy is as sy plaasvervanger aangewys. Die tweede toets begin Sondag, ook in Bulawayo, nadat Suid-Afrika die eerste toets met 328-lopies gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-806-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….