Nuus 11:00
BULLETIN 2 Julie 11 vm
Goeiemôreg. Ek is……..
In die bulletin:
# Die JSE teken goeie winste aan in die eerste ses maande van die jaar
# Kaapstad kry ‘n interdik teen afpersers
# En rugby: Die afrigter van die Britse en Ierse Leeus verwag ‘n baie moeiliker kragmeting met die Reds
# Beleggers op die Johannesburgse Aandelebeurs het die eerste ses maande van die jaar baie goed gedoen met die Alle-aandele-aanwyser wat met 14,7-persent gestyg het. Die goeie vertoning kan egter net aan ‘n handjievol aandele toegeskryf word. Slegs 25-persent van die 289 genoteerde aandele het dubbelsyfer-opbrengste opgelewer en net 59 aandele se opbrengs was meer as 14-persent. Goud- en platinum-myne en die land se groot telekommunikasie-maatskappye met hul SEB-aandele het ook goed gedoen.
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, verwelkom die inhegtenisneming van drie stadsamptenare wat daarvan aangekla word dat hulle elektriese transformators van sowat sewe-miljoen-rand gesteel het. Moya sê dis ʼn belangrike en noodsaaklike stap om die stad se infrastruktuur en bates te beskerm. Sy sê Tshwane het boonop in die huidige boekjaar 565,4-miljoen-rand begroot vir die beskerming van munisipale bates:
# Die Stad Kaapstad het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se besluit verwelkom om die tussentydse interdik te herstel teen afpersers en mense wat vasberade is om die MyCiTi-bouprojek langs Govan Mbeki-weg in Philippi te laat ontspoor. Die interdik geld tot April volgende jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, sê enigeen wat ‘n amptenaar of kontrakteurs op die terrein dreig, of die werk wil ontwrig of vertraag, sal in hegtenis geneem word:
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, verwag vandag ‘n baie taaier wedstryd teen die Reds in Brisbane nadat hulle Western Force 54-7 afgeransel het in Saterdag se eerste toerwedstryd in Perth. Farrell sê hulle moet aanpasbaar wees met nege wedstryde binne vyf weke, insluitend drie toetse teen die Wallabies. Die Reds word afgerig deur Les Kiss, wat volgende jaar oorneem by die Wallabies. Farrell sê dis ‘n skitterende span en sal altyd goed voorbereid wees waar Kiss betrokke is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64 sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-33-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-30 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-81-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die wag is verby vir K-pop-bewonderaars. Die Suid-Koreaanse groep, BTS, het hulle lang-verwagte terugkeer aangekondig en beplan ʼn nuwe toer en album vir volgende jaar. Hulle het die aangekondiging gedoen met hulle eerste regstreekse uitsending nadat al die orkeslede hulle diensplig voltooi het. Die groep van sewe lede sê hulle vertrek later die maand na Amerika waar hulle aan nuwe musiek sal werk wat in 2026 vrygestel word. Dis BTS se eerste wêreldtoer sedert die Permission to Dance on Stage-toer in 2022, en hulle eerste album sedert 2020.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….