Nuus 09:00
BULLETIN 2 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika begin met die inenting van pluimvee teen voëlgriep
# Die omstrede televangelis Jimmy Swaggart sterf op 90
# En motorsport: F1 het ‘n plan as die Midde-Oosterse wedrenne nie kan voortgaan nie
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die land se heel eerste pluimvee-inentingsveldtog aangekondig as proaktiewe maatreël teen die uitbreking van voëlgriep. ‘n Inentingspermit is aan Astral Foods toegestaan wat die maatskappy toestemming gee om sowat 200-duisend braaihoenders in te ent. Dis ongeveer 5-persent van al Astral se aanteelhoenders met ʼn geraamde waarde van 35-miljoen-rand. Steenhuisen sê die veldtog is ʼn noodsaaklike stap om immuniteit te versterk en vernietigende ekonomiese verliese te voorkom. In 2023 is miljoene voëls uitgedun wat verskaffers en verbruikers geraak het.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy is gereed vir die beplande wateronderbrekings wat gesondheidsgeriewe in Johannesburg raak. Rand Water is tot die 21ste besig met instandhoudingswerk by die Eikenhof-, Zwartkopjes- en Palmiet-pompstasies. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die Helen Joseph-hospitaal het tans wateronderbrekings wat dele van die hospitaal en omliggende gemeenskappe raak:
# Die GOOD-party sê wapengeweld gaan voort in die Wes-Kaap. Hy sê volgens hom is die Stad Kaapstad onvoorbereid en blykbaar onwillig om die kern-oorsake van die probleem te hanteer. Die party sê misdaadstatistiek toon dat meer as ʼn duisend mense tussen Januarie en Maart vanjaar in die provinsie vermoor is. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron:
# Die Amerikaanse tele-evangelis, Jimmy Swaggart wat Suid-Afrika in die 1980’s besoek het, is op 90 dood nadat hy met swak gesondheid gesukkel het. Die boorling van Louisiana was bekend as ʼn innemende Pinkster-prediker met ʼn groot gevolg voordat hy in 1988 in New Orleans op kamera met ʼn prostituut betrap is. Hy is een van talle suksesvolle TV-predikers wat by seksskandale betrokke geraak het. Swaggart het uit die Assemblies of God bedank kort nadat die kerk hom van sy amp onthef het omdat hy die straf vir morele mislukking verwerp het.
# Motorsport: Formule Een het ‘n plan indien die konflik in die Midde-Ooste ‘n uitwerking sou hê op die wedrenne aan die einde van die seisoen in Katar en Abu Dhabi. Iran het verlede maand missiele op ‘n Amerikaanse lugbasis in Katar, net oorkant die Golf van Iran, afgevuur in reaksie op die VSA se deelname aan Israel se lugoorlog van 12 dae. Die voorlaaste wedren vanjaar is op 30 November in Katar, en die Yas Marina op 7 Desember in Abu Dhabi. F1 se uitvoerende hoof, Stefano Domenicali, sê Formule Een is in kontak met die promotors in die Midde-Ooste wat die situasie monitor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60 sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-252-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-97-sent per vat.t.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….