Nuus 07:00
BULLETIN 2 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA dring daarop aan dat die Parlement wegbreek van partylojaliteit
# Die uitvoerende hoof van Capitec kondig aan dat sy kliëntebasis 24-miljoen bereik het
# En voertuigverkope vir Junie styg met byna 19-persent
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Parlement moet sy mag terugkry deur op te staan teen partylojaliteite en hy moet die uitvoerende gesag sonder vrees aanspreeklik hou. Die organisasie doen ‘n beroep vir ‘n mense-gesentreerde benadering tot toesig waarin burgers eerste gestel word, en versoek lede van die Parlement om te fokus op mense, nie op partye of leiers nie. Rachel Fischer van OUTA glo vreeslose, onafhanklike toesig is die sleutel tot die beskerming van demokrasie en om openbare belang voorop te stel:
# Capitec se uittredende uitvoerende hoof, Gerrie Fourie, skryf die bank se sukses toe aan eenvoud, bekostigbaarheid en ‘n bestendige fokus op kliënte se behoeftes. Hy het tydens ‘n onderhoud met SABC News besin oor elf jaar van leierskap, waartydens die bank van vyf- tot meer as 20-miljoen-kliënte gegroei het. Fourie, wat op 18 Julie aftree, sê ondanks digitale groei, bly instaptakke noodsaaklik. Hy glo werkloosheid kan met tien-persent daal as entrepreneurs beter ondersteun word:
# Die Motorbedryfsraad, Naamsa, sê verkope van nuwe voertuie in Junie het met 18,7-persent jaar-op-jaar tot 47-duisend-294 eenhede gestyg. Volgens Naamsa het passasiersmotorverkope met 21,7-persent gestyg, terwyl ligte kommersiële voertuigverkope met 14,9-persent toegeneem het. Die verkope van mediumgrootte vragmotors het met byna 25-persent gestyg, maar die verkope van swaar vragmotors en busse het met 3,1-persent gedaal. Invoere het gestyg, terwyl verkope van plaaslik vervaardigde modelle met 14-persent gedaal het. Naamsa waarsku teen groeiende handelsbeleidrisiko’s, veral vanuit die VSA, en dring aan op markdiversifikasie en streeksuitbreiding.
# Die DA sê die onlangse massaskietery in die Kanana- informele nedersetting in Gugulethu ontbloot ‘n ernstige gebrek aan hulpbronne in die Wes-Kaapse Polisiediens. Sewe mense is oor die naweek dood, met drie ander wat die aanval vrygespring het. Die party voer aan die Gugulethu-polisiestasie bedien bykans 100-duisend inwoners met slegs 179 beamptes, heelwat minder as wat aanbeveel word. Die DA-lid, Thomas Walters, het sy meegevoel met die slagoffers se families betuig en eis geregtigheid en dringende hervorming:
# ’n Hittegolf hou Europa steeds in sy greep, terwyl die Verenigde Koninkryk ’n maksimum van 33,6-grade Celsius in Kent aangeteken het, wat dit die warmste dag van die jaar tot dusver maak. In Turkye is 50-duisend mens ontruim as gevolg van weghol-veldbrande. Twee mense is dood in Italië, en dele van Portugal en Spanje het die hoogste temperature ooit in Junie ervaar. In Frankryk is ‘n rooi waarskuwing, die hoogste vir uiterste hitte, uitgereik in 16 streke, insluitende Parys, waar die boonste vlak van die Eiffeltoring gesluit bly.
# Tennis: Die topgekeurde Jannik Sinner het gister maklik deurgedring na Wimbledon se tweede ronde toe hy sy Italiaanse landgenoot, Luca Nardi, binne ‘n uur en 48 minute in skoon stelle verslaan het. Sinner kon in sy laaste vier toernooie nie die Wimbledon-eindstryd haal nie, maar was wel in 2023 in die halfeindronde. Intussen is die sewende gekeurde Lorenzo Musetti in die eerste ronde deur die kwalifiseerder, Nikoloz Basilashvili, van Georgië uitgeskakel. Musetti se nederlaag beteken 10 gekeurde mans het reeds voor die einde van die eerste ronde uitgeval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-661-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….