Nuus 16:00
BULLETIN 1 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motoriste gaan van môre groot brandstofprysstygings ervaar
# ‘n Tekort aan onderdele lei tot ‘n toename in afskrywings in Suid-Afrikaanse motor-eise
# En sokker: Barcelona gaan Messi vereer sodra Camp Nou se opgradering afgehandel is
# Motoriste gaan van middernag af heelwat meer moet betaal vir brandstof, met die prys van 93-oktaan petrol wat met 55-sent per liter verhoog word, 95-oktaan met 52-sent en diesel met tot 84-sent. Lampolie se prys styg met 89-sent per liter. Robert Maake van die Departement van Mineraal en Petroleumhulpbronne skryf die verhogings toe aan stygende internasionale oliepryse weens die spanning in die Midde-Ooste:
# Suid-Afrika ondervind ‘n toename in voertuie wat afgeskryf word vir onbenullige skade weens hoë herstelkoste wat te wyte is aan ‘n tekort aan onderdele. Thabo Twalo van Santam het aan Daily Investor gesê die neiging word aangevuur deur internasionale spanning, insluitend die Amerikaanse president, Donald Trump, se tariewe. ‘n Vertraging met die lewering van onderdele en prysstygings, veral van China en die Europese Unie, dwing versekeraars om herstelbare voertuie af te skryf. Twalo sê dit verhoog druk op handels-eise en die plaaslike versekeringsbedryf.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die onlangse inhegtenisneming van voormalige Transnet-bestuurders, insluitend Brian Molefe en Siyabonga Gama, dui werklike vordering aan met pogings om diegene wat by staatskaping betrokke is, aanspreeklik te hou. Die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge, Gauteng, het gister borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan aan Molefe, Gama, Anoj Singh en Thamsanqa Jiyane. Die saak gaan oor korrupsiebewerings wat verband hou met Transnet se lokomotiefkontrakte van 93-miljoen-rand. Rudie Heyneke van OUTA sê hulle moes lankal aangekeer gewees het:
# Meer as 130 liefdadigheidsorganisasies en nie-regeringsorganisasies vra dat die Israels-Amerikaans-ondersteunde Humanitêre Stigting in Gaza gesluit moet word. Oxfam, Save the Children, Amnestie Internasionaal en ander sê meer as 500 Palestyne wat hulp probeer ontvang het is dood sedert die stigting einde Mei met sy werksaamhede begin het, met amper vier-duisend wat beseer is. Die organisasies voer aan dat Israelse magte gereeld op Palestyne skiet wat hulp soek. Israel ontken dit en sê hulle bied regstreekse hulp aan mense wat dit nodig het en omseil Hamas se inmenging.
# Sokker: Die Argentynse legende Lionel Messi gaan vereer word met ‘n huldeblykwedstryd op die Spaanse reus Barcelona se ikoniese stadion, Camp Nou, sodra opknappingswerk voltooi is. Hy het byna 20-jaar lank vir die span gespeel voor hy in 2021 na Paris Saint-Germain verskuif het. Messi het 520 doele aangeteken vir Barca en 34 titels verower, insluitend tien in La Liga en vier in die UEFA-Kampioeneliga. Adjunk-president Elena Fort sê die huldeblyk moet plaasvind wanneer Camp Nou 100-persent voltooi is, en beskryf Messi as die beste speler in die klub se geskiedenis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-543-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….