Nuus 15:00
BULLETIN 1 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motoriste sal van môre heelwat meer moet betaal vir brandstof
# Die DA lê strafregtelike klagtes teen minister Nkabane omdat sy glo die Parlement mislei
# En joernaliste word in Turkye aangekeer oor ‘n beweerde spotprent van die profeet Mohammed
# Motoriste gaan van middernag af heelwat meer moet betaal vir brandstof, met die prys van 93-oktaan petrol wat met 55-sent per liter verhoog word, 95-oktaan met 52-sent en diesel met tot 84-sent. Lampolie se prys styg met 89-sent per liter. Robert Maake van die Departement van Mineraal en Petroleumhulpbronne skryf die verhogings toe aan stygende internasionale oliepryse weens die spanning in die Midde-Ooste:
# Die DA het in Kaapstad strafregtelike klagtes gelê teen die minister van Hoër Onderwys, Nokubhle Nkabane, omdat sy na bewering vir die Parlement gelieg het oor die aanstelling van ANC-kaders. Die party sê sy het vals beweer ‘n onafhanklike paneel het die bedrieglike aanstellings van mense met ANC-bande op die rade van Sektoronderwys- en Opleidingsowerhede gedoen. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê die party gaan stem teen Nkabane se departement se begroting en ander begrotings gelei deur korrupte ANC-ministers:
# Drie amptenare van die Tshwane-metro se munisipale depot is vanoggend in hegtenis geneem. Hulle word beskuldig dat hulle transformators van sewe-miljoen-rand van die Laudium-substasie gesteel het. Polisiewoordvoerder Samuel Thine beweer hulle is deel van ‘n transformator-sindikaat. Thine sê die diefstal is gekoppel aan die omgewing se ernstige kragonderbrekings wat noodsaaklike infrastruktuur in gevaar stel en die ekonomie knou:
# Vier werknemers van ‘n satiriese tydskrif in Turkye is in hegtenis geneem vir die publikasie van ‘n spotprent wat moontlik die profeet Mohammed uitbeeld. Die uitbeelding van die heilige godsdiensfiguur is verbode in Islam. Die minister van Binnelandse Sake, Ali Yerlikaya, veroordeel LeMan se spotprent as skaamteloos, en het aangekondig dat die hoofredakteur, grafiese ontwerper, direkteur en spotprenttekenaar in aanhouding is. Die tydskrif het op sosiale media ontken dat die spotprent ‘n karikatuur van Mohammed is en sê die werk verwys hoegenaamd nie na die profeet nie.
# Krieket: Engeland se span is onveranderd vir die tweede toets teen Indië wat môre op Edgbaston begin na hy die eerste wedstryd op Headingley gewen het. Dit beteken die snelbouler Jofra Archer kry steeds nie speelkans nie na ‘n afwesigheid van vier jaar, maar hy sluit vandag by die span aan. Indië het nog nooit ‘n toets in Birmingham gewen nie, met sewe nederlae en ‘n onbesliste uitslag sedert 1967. Die res van die toetse word op Lord’s, Old Trafford en die Oval in Londen beslis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-452-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….